Rekords spat
2005-03-09
DIE snikhete weer wat Saterdag in die Paarl geheers het, kon nie verhoed dat heelwat uitstekende prestasies gelewer word tydens die Boland Jeug en Junior en Boland Ussasa Hoërskool Atletiekkampioenskappe wat gesamentlik op Daljosafat Stadion gehou is nie.
Meer as 400 prestasies is gelewer wat 800 punte of meer op die APE-tabelle gelees het nie.
Drie Boland-rekords, twee van hulle deur Paarliete, is tydens die Jeug en Junior Kampioenskappe ge-breek.
Keenan Watson van die Paarl Atletiekklub het die seuns o.17 se verspringrekord met ’n sprong van 7,59m verbeter, terwyl Janita Stander ook van Paarl haar naam in die rekordboeke geskryf het, met ’n sprong van 2,90m in die paalspring vir meisies o.15.
Die derde rekord is deur Cornel Fredericks van Hoërskool Overberg opstel toe hy die 100mH vir o.15 in 13,05 gewen het.
’n Verdere 16 byeenkomsrekords is ook verbeter tydens vanjaar se byeenkoms. Atlete wat hier uitgeblink het, is: Dean Swart (HS Bredasdorp, s.14 110m 11,18s en 300mH 22,63s); Antonio May (Klein Nederburg SS, s.14 800m 2:02,7); Franklin Roman (Steindal PS s.15 5000m 27:52,36); Jacques du Plessis (Paarl Gim, s.14 90mH 12,23s); Cornel Fredericks (HS Overberg s.15 100mH 12,81s en 300mH 38,67s); Louw Smith (Paarl Gim, s.17 110mH 13,49s), Wenda Theron (Worcester Gim m.17 100mH 13,79); Susan Groenewald (HS Klawer o.17 5000mS 30:48,98); Keenan Watson (Paarl AK s.17 VS 7,59m) Janita Stander (Paarl AK, m.15 PS 2,90m); Brynn-Peter Kemp (Paul Roos Gim, s.14 DG 51,12m); Karin le Roux (HS Robertson, m.19 HG 42,28m); Heinrich Gonzales (HS Robertson s.17 HG 61,48m), Johan Kruger (s.19 HG 57,76m)
’n Boland Hoërskole-span was na afloop van die byeenkoms gekies wat sal deel neem aan die Wes-Kaapse Hoërskole Atletiekkampioenskappe wat Saterdag op Daljosafat Stadion plaasvind.
Die Boland Atletiek span sal te staan kom teen die spanne van WP en SWD.
Die atlete sal Saterdag ’n laaste geleentheid kry om vir die SA Kampioenskappe te kwalifiseer wat op 19 en 20 Maart ook op Daljosafat Stadion gehou sal word.
Dit was opmerklik hoe vlot die naweek se byeenkoms verloop het en hoe georden sake op die baan was.
Volgens dr Emilie Pienaar, voorsitter van Boland Atletiek se Baan en Veld Kommissie, was vanjaar se Jeug en Junior Kampioenskappe een van die beste byeenkomste wat sy al in haar lewe bygewoon het. Richard Stander, hoof uitvoerende beampte van Boland Atletiek, sê daar is hard gewerk om die aanbieding van byeenkomste op Daljosafat Stadion op internasionale standaarde te kry.
“Ons het baan 'skoner' gekry deur byvoorbeeld, die tydlesers terug te skuif van die wenpaal en die aankondiger is ook nie meer in die middel van die veld nie," het hy gesê.
Saterdag se byeenkoms begin reeds om 06:30.
More
News
|