Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Burgemeester bring goeie nuus van Duitsland

Burgemeester bring goeie nuus van Duitsland
 
2005-06-15


DIE uitvoerende burgemeester van Drakenstein, Herman Bailey, het met sy terugkeer van ’n buitelandse besoek goeie nuus vir die gemeenskap gebring.

Bailey was onlangs deel van ’n afvaardiging wat Duitsland onder leiding van die Minister van Toerisme en Omgewingsake, Marthinus van Schalkwyk, besoek het.

Die doel van die besoek was om by die Duitsers kers op te steek oor die sokker-wêreldbeker wat vir 2010 aan Suid-Afrika toegeken is.

Duitsland is volgende jaar die gasheerland vir dié grootse sportskouspel wat naas die Olimpiese Spele die grootste televisiedekking ter wêreld kry.

Volgens Bailey was ’n groot getal verteenwoordigers van SA Toerisme deel van die afvaardiging, asook hoteliers en die adjunk-minister van Sport, Gert Oosthuizen.

Hulle het onder andere die man wat aan die hoof van die totale Duitse organisasie staan, Franz Beckenbauer (wat self ’n beroemde sokkerspeler- en afrigter was), ontmoet.

Ná 'n vergadering met plaaslike sokker belangegroepe, is Bailey gevra om die inisiatief te neem om te kyk na die moontlikhede om 'n buitelandse sokkerspan te oorreed om in die Drakenstein 'n oefenkamp te hou.

Bailey het reeds die afgelope 20 jaar noue bande met die Duitse-Afrika Stigting.

Een besluit wat so te sê aanvaar is, is dat ’n Duitse o.15 span in Julie teen ’n span in die Drakenstein sal speel.

Voorts bestaan daar ’n groot moontlikheid dat die Duitsers in hulle winter hier in die Drakenstein ’n somer-oefenkamp sal hou.
’n Bekende Duitse klubspan het ook reeds aangedui dat hulle in so ’n gedagte belang stel.

Na die besoek aan Berlyn het Bailey oor die grens na die Tsjeggiese Republiek op uitnodiging van die Suid-Afrikaanse ambassadeur gereis.

Daar het hy ook samesprekings met onder meer die Tsjeggiese sekretaris-generaal van sokker, die spandokter en ’n internasionale speler gehad.

Bailey het aan Paarl Post gesê die kanse is baie goed dat ten minste een van dié lande met wie se sokkerverenigings hy samesprekings gehad het, binne die afsienbare tyd na die Drakenstein sal kom.

Voorts het hy ook reeds goeie betrekkinge opgebou met verteenwoordigers van Japan en Suid-Korea.

Indien slegs een van bogenoemde lande se sokkerspelers die Drakenstein as basis vir hul oefenkamp benut, kan dit baie vir die plaaslike ekonomie beteken.

Gewoonlik bestaan só ’n internasionale oefengroep uit tussen 30 tot 40 spelers, asook die hele afrigtingspan en gewoonlik honderde ondersteuners.

Dié mense sal dan verblyf moet kry en hulle sal uiteraard heelwat geld bestee.

Ook die area se gholfbane en ander toerisme-aantreklikhede soos wynkelders sal druk besoek word.

Bailey het gesê indien mens werk volgens die formule van SA Toerisme, beteken agt toeriste dat een werkgeleentheid geskep word.
Dit lyk dus of die ekonomie in verskeie opsigte sal kan baat vind by sportmanne wat die Drakenstein gaan besoek.

Nou is die tyd om skouer aan die wiel te sit en nie te wag dat dit te laat raak nie, het Bailey gesê.

Die burgemeester het ook planne om binnekort ’n indaba met sportlui van die Drakenstein-omgewing te hou.



More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za