Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vark vat die pad

Vark vat die pad
 
2008-01-10

Lise Beyers

INWONERS van Bo- en Klein Meulstraat, Paarl, was vandeesweek verbaas toe ’n vark die buurt op hol gehad het.

Daar word tans bespiegel of dit iemand se Kersete is wat ontsnap het, of ’n troeteldier wat die pad byster geraak het.

Die drama het vroeg Maandagoggend begin afspeel toe ’n inwoner van die gebied ’n swart Viëtnamese Boepensvark in BoMeulstraat gewaar het.

Hy het die Munisipaliteit hiervan in kennis gestel, maar hulle het geen belangstelling getoon nie.

Die vark het voortgegaan om van tuin tot tuin te wandel, totdat Ronél van Tonder by Bo-Meul­straat opgery het.

“Ek het die swart dier in die middel van die pad sien staan en het eers gedink dat dit ’n hond is.

“Eers toe ek by haar kom, het ek verstom besef dat dit ’n vark is.

“Sy wou glad nie uit die pad beweeg nie. Ek het vir haar geroep en om haar gery tot in Klein Meulstraat. Sy het agterna gehardloop en vir my al snorkend begroet toe ek by my huis stilhou.

“Dit was duidelik dat sy gewoond is aan mense.”

Ronél het haar twee seuns gevra om die uitgehongerde vark melk en wortels te voer, terwyl hulle met ’n oplossing vorendag probeer kom het oor haar heenkome.

Hulle het ook hul hande vol gehad met die gedierte wat net verder wou dwaal. En soms het sy selfs nukkerig geraak en aan enkels gehap.

Die DBV is geskakel, maar die Van Tonders is verwys na die Munisipaliteit, wat op hul beurt weer vir hulle terug verwys het na die DBV.

“Niemand was bereid om die dier te kom haal nie en ons was bekommerd oor haar veiligheid. Ons erf is nie omhein nie en sy wou aanmekaar in die pad wandel.

“Uiteindelik het die Munisipaliteit gesê dat hulle iemand sal stuur om na die situasie te kom kyk, maar ons wag nou nog vir dié persoon.”

Dus is daar die aand bed gemaak vir die verlore vark in hul motorhuis waar sy ’n rustige nag deurgebring.

Die volgende oggend het vriende van die Van Tonders wat in Agter-Paarl boer, die verdwaalde vark kom oplaai en plaas toe geneem.

Dit is hierna bevestig dat die rondloper wel ’n opregte Viëtnamese Boepensvark is.

Tans is dit onduidelik waar die vark vandaan kom.

Daar is geen plase met lewende hawe in dié gebied nie.

’n Dierekenner het gesê dat in die geval van Viëtnamese Boepensvarke, is dié diere dikwels aangekoop as troeteldiere, maar wanneer hulle te groot begin raak, weet die eienaar nie wat om met die dier te doen nie.

“Ook, dié tyd van die jaar is baie mense steeds weg op hul Kersvakansies, en dikwels word hul diere aan die genade oorgelaat.”

Enigiemand wat kan bewys dat die vark aan hulle behoort, kan 082-593-6752 skakel.

* A runaway Vietnamese potbellied pig was found roaming the streets of central upper Paarl.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za