Feestyd-tragedie
2008-01-10
David Joshua
KIM was rêrig ’n sonskynkind die afgelope twee jaar dat sy ’n leerder hier by die skool in my klas was en ons almal hier by die skool gaan haar verskriklik baie mis.”
So sê Jolene Adams, onderwyser by Ligstraal Skool vir Gestremdes. Kim (14) was kort voor Kersdag saam met haar ouers, David Nadus (60) en sy vrou Cheryl (49), in ’n gru-ongeluk betrokke naby Hopefield. Kim se ouers is op slag dood, en Kim, hul enigste kind, is die volgende dag oorlede op pad na die Groote Schuur Hospitaal. Twee ander familielede is in dieselfde ongeluk dood: ’n niggie Tracey-Lee Kleyn (25) van Kaapstad en dié se tweejarige seuntjie Jordan-Lee van Wyk. Hulle was saam op pad huis toe nadat hulle by vriende op Paternoster aan die Weskus gaan kuier het. Die ander insittendes, Cheryl se suster Vanessa Kleyn (48) en Tracey-Lee se verloofde, David van Wyk (28), het ligte beserings opgedoen. Kim se ander neef, Carlyle Meyer, het ernstige rugbeserings opgedoen en lê in die Somerset-Wes Hospitaal. Cheryl Nadus het die splinternuwe Nissan X-Trail bestuur wat die gesin aangeskaf het pas na David se aftrede verlede jaar. Sy het blykbaar beheer oor die voertuig verloor. David was voor sy aftrede hoof van die eksamendepartement van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Bellville-kampus. Hy was veertig jaar aan dié instansie verbonde. Cheryl het op Ligstraal se Skoolbeheerraad gedien en haar man was ondervoorsitter. Hy was ook betrokke by Rusthof- en Abbeyfield inrigtings vir bejaardes. David se splinternuwe Nissan Qashqai staan nog by die huis en sal nou nooit deur sy eienaar bestuur word nie. Jolene vertel dat Kim ’n liefdevolle kind was en wou vir almal wie sy ontmoet het, drukkies gee. “Sy was intelligent en by die skool moes ek net mooi verduidelik. Sy wou elke Vrydag toetse skryf en het alles gedeel. By partytjies wat by die skool gehou was, het sy vir al die junior deelnemers klere en skoene uitgedeel.” Volgens Adams het Cheryl tien jaar vir Kim gewag en altyd gesê dat sy ’n engel was wat die Here vir haar gegee het. By die begrafnis het vier van haar skoolmaats Kim se kis gedra. “Sy was ‘n Ligstraal deur en deur in almal se lewe en ons almal gaan haar en die ander baie mis - David omdat hy so ordentlik was en die sagte Cheryl, altyd met ’n glimlag en wat jou deurgaans tuis laat voel het wanneer jy haar besoek het.” David word oorleef deur ‘n jonger broer Allan, wat in Cradock woonagtig is en twee susters, Ewena en Clarise, van die Paarl. Cheryl word oorleef deur haar suster Vanessa en haar ma, Grace Kleyn van Athlone. Die ander suster, Bernadette (ma van Carlyle), is twee jaar gelede oorlede.
More
News
|