Suidoosterfees word met groot vyf gevier
2008-01-10
DIE groot vyf in die kunste: toneel, musiek, dans, film en kunsuitstallings, is met vele groot name in die kunstebedryf ingespan om die vyfde Suidoosterfees te vier oor die naweek van 1, 2 en 3 Februarie en met aandopvoerings van 28 Januarie tot 9 Februarie in Artscape, Kaapstad. Onder die bekende name wat op die feesprogram pryk, is Marthinus Basson, Kim Engelbrecht, David Kramer, Denise Newman, Thoko Ntshinga, Soli Philander, Mike van Graan en Brumilda van Rensburg. Boonop bring die fees ook ’n wêreldbekende Kaapse seun, Jonathan Butler, huis toe vir slegs twee aanbiedings met sy volle orkes uit Los Angeles. ’n Opwindende nuwigheid op vanjaar se fees is ’n gratis Jazz Lounge waar onder andere Demaj, Sammy Hartman, Ezra Ngcukana, Rocco de Villiers en nog ’n Standard Bank Jong Kunstenaar vir 2007, Mark Fransman, feesgangers op Vrydag en Saterdag die heeldag gaan vermaak. Feesgangers sal gratis vermaak word deur RSG met heelwat direkte uitsendings van gewilde programme soos Kappityt en Brekfis met Derrich, terwyl eet- en drinkgoed byderhand is. Ouers en hoërskoolleerders kan ook loopbaangeleenthede kom ondersoek by die Loopbaan Ekspo wat deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans aangebied word. Vir meer inligting, besoek www.suidoosterfees.co.za. Besprekings by Computicket
More
News
|