R86 000 verdwyn uit bankrekening
2008-01-10
’n EGPAAR van Wellington is R86 000 armer ná die feestyd en dit is nie te danke aan die Kerstyd-koopkoors nie. Dit is wel egter te danke aan swendelaars wat toegang tot hul Absa bankrekening verkry het. Merle Antrobus vertel dat sy en haar man, Jim, kort voor die nuwe jaar geskok was om vas te stel dat hul rekening gestroop is. “Die hele debakel het begin toe ons selfoon op 29 Desember opgehou werk het. Ons het vasgestel dat ‘n onwettige “sim-swop” in Johannesburg plaasgevind het. Dieselfde aand is ons bankrekening op die internet geblok en nie Absa of Vodacom kon ons help voor Maandag 31 Desember nie. “By nadere ondersoek, het ons vasgestel dat my man se identiteitsdokument vervals is en hiermee het die booswigte by ’n selfoonwinkel in Gauteng ’n nuwe simkaart bekom vir sy selfoon. “Hiermee is die simkaart wat in ons foon is, geblok en dus kon ons nie die sms boodskappe ontvang van ons bank wanneer ons bankrekening gebruik word nie. “Dit is toe dat die skuldiges ons bankrekening begin stroop het. Die geld is versprei na altesame 21 verskillende Absa-rekenin- ge almal ’n bedrag van presies R4100 elk. “Absa het opgelet dat iets fout is met die bedrywighede, maar toe hulle vir ons probeer skakel op die selfoon, kon hulle weens die “sim-swop” nie vir ons in die hande kry nie. “Ons voel hulle moes self besluit het om die transaksies stop te sit, maar hulle het voortgegaan.” Intussen is ‘n bedrag van R15 000 opgespoor in een van die slapende rekeninge wat gebruik is en aan hulle terugbetaal. Maar steeds wag hulle vir die ander geld. Die enigste kommunikasie wat die Antrobus’ van Absa bank tot dusver ontvang het, is dat hulle tans die saak ondersoek en eers met die uitkoms hiervan sal besluit of hul geld terugbetaal sal word. “Intussen trek ons geld rente in iemand anders se rekening.” Die Antrobus’ is nie die eerste slagoffers van dié soort diefstal nie. Verlede jaar is daar breedvoerig oor die soort misdaad verslag gedoen, nadat tien mense in die Wes-Kaap in hegtenis geneem is, insluitend bank- en selfoonwerknemers, vir “sim-swop” verneukspul. Honderde duisende rande is reeds op dié manier uit bankrekeninge verwyder. * Fraudsters have emptied a Wellington couple’s bank account of R86 000.
More
News
|