Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Twee top matrieks skitter

Twee top matrieks skitter
 
2008-01-10


TWEE plaaslike matrieks het geskitter in die eindeksamen en pryk onder die top twintig in die Wes­-Kaap.

Hulle is Ruhan Meyer van Hoër Jongenskool, wat die vierde plek op die merietelys behaal het, en Alma Diamond van Hugenote Hoërskool (16de in die Wes-Kaap).

Altesame 147 plaaslike leerlinge het vanjaar A-gemiddeldes behaal, teenoor 157 aan die einde van 2006 (sien bl 10 en 11). Die slaagsyfer in die Wes-Kaap het ook effe gedaal van 66,5% tot 65,2%.

Ruhan Meyer, seun van dr Marius Meyer en Milka Meyer van Courtrai, het nie net die vierde plek op die provinsie se merietelys behaal nie, maar ook al tien sy vakke aan Hoër Jongenskool met onderskeiding geslaag.

Dié fisika-fundi (Ruhan beplan om vanjaar aan die Universiteit Stellenbosch te studeer) vertel dat hy veral gekonsentreer het om deur die jaar hard te werk.

Die tien vakke was omdat hy nie kon besluit watter vakke om te kies nie. By die Afrikaans en Engels, wiskunde en addisionele wiskunde, rekeningkunde, natuur-en skeikunde, bio­logie en rekenaarstudie, het hy musiek en musiekvoordrag gevoeg.

Hy het juis deur die studies altyd probeer tyd maak vir ’n potjie gholf, tennis, maar veral klavier en saxofoon.

Alma Diamond, verlede jaar hoofmeisie van Hugenote Hoërskool op Wellington, het nie verwag om die 16de plek op die merietelys te behaal nie.

Sy is reeds in Nederland, waar sy vanjaar by ’n gesin werk as au pair.

“Sy het gewerk vir goeie punte, maar die merietelys was ’n groot verrassing,” vertel haar ma, Ansie.

“Alma het debat gedoen, die skool se koerant gedoen, netbal gespeel, alles gedoen wat sy kon en alles geniet.

“En ná alles was sy nie seker oor wat sy wou doen nie. Nou kan sy rustig raak en haar toekoms uitwerk.”

Byron Parrot van Klein Nederburg Sekondêr het ’n toekenning ontvang as een van tien histories benadeelde leerders wat die beste presteer het in die provinsie.

Hy het onderskeidings vir ses vakke en het reeds ’n Sasolbeurs losgeslaan om chemiese ingenieurswese aan US te studeer.

’n Ander plaaslike uitblinker was Henri Cloete van HJS (beste prestasie in Natuur- en Skeikunde).

HJS het altesame 30 A-kandidate (100% slaagsyfer), Gimnasium het 25 (100% slaagsyfer), La Rochelle het 23 (100% slaagsyfer), Hugenote het 21 (100% slaagsyfer), Hoër Meisieskool Paarl het 19 (100% slaagsyfer), Klein Nederburg het 6 (96% slaagsyfer), Boland Landbouskool het 3 (100% slaagsyfer), Labori het 3 (92,3% slaagsyfer), New Orleans twee en Charleston Hill een . New Orleans het ’n slaagsyfer van 93,78% en Charleston Hill se slaagsyfer is 61,58%.

La Rochelle, met 22,3% van die leerlinge wat met ’n gemiddelde A geslaag het, het weer die ministeriële toekenning vir volgehoue voortreflikheid ontvang.

Die ander skole se slaagsyfers is Franschhoek 94,44%, Kylemore 79,51%, Bergrivier 79,37%, Groendal 71,15%, Noorder-Paarl 60,15%, Paulus Joubert 43,28% en Desmond Tutu 41,11%.

Die aantal skole in die Wes-Kaap met ’n slaagsyfer van minder as 60% het vanjaar toegeneem na 57, teenoor verlede jaar se 34 skole.

Daar is kommer oor die swak slaagsyfer van veral Paulus Joubert en Desmond Tutu Sekondêre Skole.

Paulus Joubert se slaagsyfer was verlede jaar 76,7% en daar was een A-kandidaat.

Desmond Tutu Sekondêr se slaagsyfer van 41,11% vergelyk ook swak teenoor 56,3% die vorige jaar.

Volgens Tommy Kearns, hoof van Paulus Joubert, skryf hy die skool se swakker uitslae onder meer toe aan die dood van die Ekonomie-leer­krag in die tweede helfte van verlede jaar, asook die onderwyserstaking in Junie.

Van die leerlinge het nie hul werkstukke deur die jaar ingedien nie, en verskeie het nie die bykomende klasse wat na die staking aangebied is, bygewoon nie.

Twintig leerlinge het selfs vir sommige vraestelle in die eindeksamen nie opgedaag nie, sê Kearns.

Weens die groot aantal matrikulante wat gedruip het, sal klasse vanjaar Saterdae by Noorder-Paarl Sekondêr aangebied word.

Leerlinge kan Saterdag 26 Januarie daar gaan registreer vir ’n maksimum van drie vakke. Klasse begin 2 Februarie en duur tot 17 Mei. Die hereksamens sal in Mei en Junie geskryf word.

Leerlinge sal tot 2011 kans kry om eksamens van die ou kurrikulum af te lê.

* Bridge House se matrieks, wat die eksamen van die Onafhanklike Eksamenraad geskryf het, het 14 studente met A-gemiddeldes in die klas van 31 opgelewer (45% van die klas) met ’n 100% slaagsyfer. Die top student, Sarah Norman, het in al sewe haar vakke A’s behaal.

* Two local matriculants have made the meri




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za