DIT is met skok en teleurstelling dat ons verneem van die matriekuitslae van Paulus Joubert Sekondêr - ’n skamele 43% slaagsyfer vir 2007.
’n Mens begin wonder of die fout by die kinders of by die onderwysers is.
Die staking van 2007 kan seker ook as verskoning gebruik word (asook leerders wat graad 11 eintlik moes gedruip het).
In dieselfde asem moet ek byvoeg dat ander skole se onderwysers ook gestaak het, maar hul uitslae is nie so swak nie.
As ’n mens die uitslae bestudeer is dit duidelik dat daar dringend ingryping benodig word, anders gaan die tendens met die swak uitslae voortduur.
Ek wonder of daar dalk nie ander interne probleme by die skool is wat ’n rol speel in die onderrig en uitslae van ons leerders nie.
Dit is tyd dat onderrig weer voorkeur geniet en dat die belange van die skool en leerders weer voorkeur geniet.
As trotse oudleerder en stoere Paulus-ondersteuner probeer ek nie om die skool se naam te beswadder nie, maar om ’n nederige bydrae te lewer om Paulus weer positief op die ‘map’ te plaas.
Ek glo baie oudleerders en ouers deel hierdie sentiment en ons wil graag help. Paulus was en is ons eerste en enigste keuse.
Ontevrede