DIE Paarlse gemeenskap het verlede week saamgestaan om ’n skootrekenaardief vas te vat.
Die voorval het Donderdag by Bohemia tatoeëersalon in die Hoofstraat ontvou toe ’n jong man die salon binnegegaan het en voor die oë van talle ooggetuies ’n skootrekenaar vanaf ’n lessenaar gegryp en die pad gevat het. Die eienaar het dit toe pas neergesit nadat hy die lokaal binnegekom het.
Alwyn van Zyl vertel dat hy in een van die kamertjies besig was om getatoeëer te word, toe chaos in die ontvangsarea losgebars het.
“Nadat die man die rekenaar gegryp het, het mense hom agterna geroep, maar hy het die hasepad gekies.
“Ons almal is byna soos een mens agter hom aan, maar hy het reeds ’n aansienlike voorsprong gehad.
“So ver as wat ons gehardloop het, het mense by die jaagtog aan gesluit, beide te voet en met motors.”
Die dief het met Hoofstraat gehardloop in die rigting van die middedorp. Hy het agter om die Toringkerk-saal gehardloop en toe hy sien dat sy agtervolgers hom inhaal, het hy die rekenaar agter die kerkkantoor laat val.
Die vlugvoetige kalant het steeds verder gehardloop, maar is kort hierna in die middedorp deur die polisie ingehaal.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat as dit nie vir die spoedige optrede van die publiek was nie, sou die jong man en die rekenaar soos mis voor die son verdwyn het.
’n Sewentienjarige jeugdige is in hegtenis geneem in verband met die voorval.
* Numerous members of the community helped stop a laptop thief in his tracks.