BUITELUGLIEFHEBBERS kan binnekort van die mooiste uitsigte in die Boland te voet of te perd verken.
Hierdie nuwe roete van altesame agt kilometer is langs die westelike hange van Paarlberg.
Dit begin by die Red Star Padstal (langs die R44 tussen Klapmuts en Wellington), strek oor die Crow’s Nest Wynlandgoed tot by die Ridgeback Landgoed en terug.
Verversings kan by die padstal genuttig en van die beste wyne in die Pearl’s Gate mini-wynstreek op Crow’s Nest en Ridgeback geproe word.
Vanaf die roete kan die mooiste uitsig oor die poort tussen Paarl- en Perdeberg beleef word.
In Paarlberg se fynbos en die naasliggende wingerde kry avonturiers boonop ’n verdere bonus, sê Crow’s Nest se eienaar, Marcel de Reuck.
Die amptelike bekendstelling van die roete is op Saterdagoggend 2 Februarie wanneer ’n perde-uitrit vanaf 07:00 tot 09:00 tydens die Hoefslagfees op Crow’s Nest gehou word.
Toegang is R50 per deelnemer (kinders onder 12 jaar gratis) en dit sluit die volle dag met al die feestelikhede insluitend perde- en hondevertonings, asook ’n blues-rock-optrede die aand in.
Enigeen is welkom om die uitrit mee te doen.
Skakel Lyn Carstens by 082-770-9079.