Jan en die Boontjierank
2008-01-17
DIE klassieke sprokie Jan en die Boontjierank is te sien by die Ou Meul-teater op Saterdag 26 Januarie om 10:00. Soos in die die sprokie verkoop Jan hul koei vir vyf wonderbone, tot ontsteltenis van sy ma wat gehoop het op ’n geldjie om hul deur die swaar wintermaande te dra. Ma gooi die bone weg wat onmiddellik groei tot ’n wonderboontjierank, wat die nuuskierige Jan natuurlik nie kan weerstaan nie. Jan ontdek ’n ander wêreld op die ander punt van die boontjierank. ’n Wêreld met reuse, eende wat goue eiers lê en harpe wat self speel. Gehore sal self moet kom kyk of Jan sy en sy ma se omstandighede kan verander. Kaartjies is R30. * Nog by die Ou Meul-teater kan musiekliefhebbers luister na Lara Frances se konsert gebaseer op haar debuutalbum “High on Life” Saterdag 26 Januarie om 20:00. Dié album is ’n verfrissende mengsel van Afrikaanse en Engelse pop- en nu-folkliedjies. Dié student in bedryfsielkunde is “iets in die twintig en ten volle tweetalig” en dit is daarom dat haar album soomloos tussen Afrikaans en Engels beweeg. Die bindende faktor is ’n jong vrou se ondervinding van die lewe en die liefde sonder om te soetsappig te raak. Daar is wel soms ’n bittersoet realiteit wat inkruip in liedjies soos “Wyn”, “Jy lyk nog tien keer beter ná nog ’n glasie wyn” en “Die lewe is ’n lied, so sing, Bliksem, sing” en “Lola”. Maar aan die einde beskaam die hoop in haar eerlike lirieke alles behalwe. Daar is ook ’n paar akoestiese liedjies waarop Lara self die kitaar nadertrek, ’n liefde wat sy om kampvure op die strand aangeleer het à la Jack Johnson en Tristan Prettyman. Lara Frances se liedjies balanseer intensiteit en welsprekenheid met kreatiewe vaardigheid en eerlikheid. Kaartjie R40. Skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056.
More
News
|