CHRISTO KOTZE van die Paarl het op 8 Desember ’n merkwaardige prestasie behaal toe hy aangewys is as die SA kampioen in die modified saloons 2.1 klas van Ovaalbaanmotorresies.
Die Toekenning is aan hom oorhandig by die Motorsport SA Nasionale Kampioenskapsgaladinee by die Emperor’s Palace in Johannesburg.
Christo het in 1986 met Ovaalbaanmotorrenne begin, maar het in 1994 ophou jaag toe Paarl Klub ontbind het. Na elf jaar uit die sport het Christo besluit om weer aan wedrenne te begin deelneem.
In 2005 het hy by die Worcester Motorklub aangesluit waar hy in die 2005/2006 seisoen sowel as die 2006/2007 seisoen die klubkampioen was en nog steeds is.
In sy loopbaan het Christo heelwat toekennings ontvang vir sy prestasies op die renbaan.
Sy loopbaan het in 2007 ’n hoogtepunt bereik toe hy besluit het om aan die SA-kampioen- skappe deel te neem wat in George, Oudtshoorn en Worcester aangebied is.
Christo het redelik goed gevaar deur die loop van die kampioenskap, maar dit was op die laaste dag op Worcester waar Christo letterlik voet in die hoek moes sit om die titel sy eie te maak.
Die dag op Worcester het uit drie bene en ’n finaal bestaan. Hier het Christo uitstekend gevaar om twee eerste plekke en ’n derde plek in die drie bene te behaal.
Hierna het Christo uitstekend gery om uiteindelik daarin te slaag om die finaal te wen en sodoende as die kampioen gekroon te word.