Jong(h) Sewes-Bok
2008-01-17
MET Juan de Jongh (19) die nuutste toevoeging tot die Springbok-sewesgroep, spog Hugenote Hoërskool in Wellington tans met twee oud-leerders in die nasionale span. Die ander oud-leerder is Frankie Horne, wat reeds vantevore vir die span uitgedraf het. De Jongh, 19, het onlangs die uitsoekgroep van 12 spelers gehaal om Suid-Afrika na Australië en Nieu-Seeland mee te maak. Boonop is daar ook ’n Paarliet, Renfred Dazel, in afrigter Paul Treu se groep wat aan die toernooi in Darwin gaan deelneem. As die groentjie in die groep is De Jongh nie skaam om te erken dat dit beslis ’n droom van hom was om eendag die Groen-en-Goud oor die kop te trek nie. “Dit is ’n groot eer vir my as jong speler om saam met die groep spelers my land in Australië en NieuSeeland te verteenwoordig,” sê die jong man wat in 2006 gematrikuleer het. De Jongh is een van die jongste spelers wat nog vir die sewes-Bok- ke op toer gekies is. Na hy in 2006 puik rugby vir Boland se Cravenweekspan gespeel het, was De Jongh ingesluit in die SA Skole se B-span vir wie hy in een wedstryd teen Italië gespeel het. “In ’n mate was dit tot my voordeel dat ek in die Boland op skool was, aangesien daar so baie goeie rugbyskole in die Wes-Kaap is,” sê De Jongh. “Dit het my beslis in my opgang op die rugbyveld gehelp.” Volgens De Jongh kom niks vanself nie en is dit belangrik om aan te hou probeer en om vas te byt. “Dit gaan maar alles oor hoe jou ingesteldheid is en hoe hard jy werk,” sê De Jongh. Alhoewel hy sê dat jong kinders wat in sy voetspore wil volg, net moet glo in hulself, hou De Jongh sy voete ferm op die aarde aangesien hy self ’n nuweling in die groep is. “Dit is vir my moeilik om te sê wat jong ouens moet doen wat graag my droom wil volg, aangesien my droom werklik nou eers begin het.”
More
News
|