Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nuwe Bok-afrigter klein maar 'getrein'

Nuwe Bok-afrigter klein maar 'getrein'
 
2008-01-17


David Joshua

“KEISER Napoleon Bonaparte was nie ’n lang man nie, maar hy het sy manskappe op die slagveld só vurig aangevoer en die Franse volk só gelei dat hulle die ganse Europa op ’n stadium onderwerp het.

“Moet ook nie vergeet dat dinamiet in klein bietjies verpak word en dat dodelike gif in klein botteltjies kom nie! Hy’s klein maar getrain!”

Sulke goedige kommentaar moes Peter de Villiers, die nuut aangewese Springbokafrigter, verlede Woensdagaand aanhoor, tydens die vieringe by sy woning in New Orleans, Paarl.

Hy het glimlaggend dié woorde aangehoor, keel skoongemaak en dit daar gelaat.

Dat dit raak opsommings van híérdie kordaat is, is gewis, maar voeg daarby stille vasberadenheid en fokus, hardwerkendheid, die wil en deursettingsvermoë om suksesvol te wees en bo uit te kom by, dan kom jy nader aan die waarheid.

Vir baie ander het dit as ’n verrassing gekom dat Peter as die nuwe Springbok-afrigter aangestel word, maar vir familie, vriende, en Drakensteiners wat hom ken, was dit slegs ’n kwessie van tyd voordat hy die (hoogste) rugby-afrigtingsport in die land sou bereik.

Toe sy aanstelling verlede Woensdag bekend gemaak word, het die nuus soos ’n veldbrand deur die vallei versprei, en tot laataand het ’n motorkavalkade met blęrende toeters deur die strate van Paarl-Oos en later deur Hoofstraat gery om sy aanstelling te vier.

Oral het mense uitgestorm om die gedoente gade te slaan en kinders het saamgeskreeu van pure opwinding.

“Dis geskiedenis wat hy maak en in ons oë is hy ’n held, want hy’s die eerste gekleurde om dit op hierdie vlak reg te kry. Boonop is hy ’n Paarliet! Hoe gou gaan so-iets weer gebeur?” het ’n emosionele vrou en vurige aanhanger van De Villiers gevra.

Almal met wie gepraat word, is dit eens dat hy die regte man is om die werk te doen, want hy sal dit kan regkry om die mense te verenig om die Springbokspan.

“Ek was tot gister nog ’n vurige All Black- on­dersteuner, maar ek is nou pure Springbok. Net more gaan koop ek my Springboktrui! Die man verdien om ondersteun te word,” het munisipale amptenaar James September gesę nadat hy met De Villiers gaan blad skud het.

“Nou gaan ek maar weer my werksaamhede by my rugbyklub in Newton hervat om rugby daar te help. Ek wil nie die wa voor die osse span nie, maar hy’t gesę dat hy almal ’n gelyke kans wil gee. Dis nou skouer aan die wiel sit om daai kans te kry!”

In duisende huise dwarsoor die land is asem opgehou en druk bespiegel oor De Villiers se aanstelling. Tot op die nippertjie was hy in ’n titaniese stryd gewikkel met Heyneke Meyer, Bulls-afrigter, as naaste teenstander.

Die ander kandidate was Chester Williams en Allister Coetzee, wat ook reeds diep spore in rugby getrap het.

De Villiers, wat hou van tuinmaak, het die magdom voetspore van familie, vriende, pers en Jan Alleman oor sy deurdrumpel gelate aanvaar, want skielik was hy in die openbare oog. Sy gesig het immers telkens oor die televisie geflits en voorbladberigte is geskryf.

“Vergeet dat ek as die eerste swart afrigter aangestel is. Ek is nou die Springbok-afrigter. Transformasie is op almal se lippe, maar dit word ’n vloekwoord soos wat mense verskillende waardes daaraan heg. Almal gaan ’n gelyke kans kry,” het De Villiers gesę.

Vir ’n wyle het stilte geheers terwyl De Villiers gepraat en ook almal bedank het vir hulle ondersteuning. Hy het sy vrou en familie uitgesonder as die ankers in sy lewe wat hom altyd plat op die grond gehou het.

Sy vrou Theresa sę: “Ek het al gewoond geraak wanneer my man vir lang tye weens sy afrigtingswerk van die huis af weg is en my kollegas by die skool terg my as die rugby-we­duwee.

“Ons familie gun dit vir hom, want dit was sy droom vir tien jaar waaraan hy hard gewerk het. Ons weet hy gaan sy droom terdeë uitleef.”

Sy twee dogters, Odille (wat Dinsdag sewentien geword het) en die oudste, Claudette, glimlag instemmend.

Tussen die ander lyk De Villiers klein, maar jy kom gou agter dat almal stilbly en luister wanneer hy praat, wat getuig van die ontsag wat hy afdwing.

Peter het sy laerskoolloopbaan by Nederburg Primęr deurloop en sy hoërskooldae by Noorder-Paarl deurgebring waar hy in 1976 matrikuleer het.

Hy het hom as onderwyser kwalifiseer by die destydse Perseverance Onderwyskollege in Kimberley en teruggekom om sy studies by Hewat Opleidingskollege in Athlone te voltooi.

Hy het begin skoolhou by Magnolia Primęr en was later adjunk-hoof by Klapmuts Primęr. Hy het die onderwys in 1997 verlaat en hom voltyds op rugby-afrigting toegespits.

Vroeër jare het hy as skrumskakel vir Boland en Griekwas vir Saru uitgedraf. In die Paarl het hy sy rugby vir Young Gardens gespeel.

By die provinsiale Valke-span het hy drie seisoene as afrigter deurgebring.

In 1993 lei hy Athlone Kollege Paarl se span tot die SA Kollege-titel en in 1995 buit Drakenstien Korrektiewe Dienste die SA Magte­titel met hom as afrigter.

Onder sy leiding was Tygerberg ook twee maal WP klubkampioen en die SA o.19-span was onder sy afrigting onoorwonne in Frank­ryk. Met die nasionale o.21-span het hy die Węreldtitel Suid-Afrika toe gebring in 2005.

Sy ma, Hilda de Villiers, is baie trots: “Ek weet dat hy die Springbokke tot net sulke hoogtes sal lei soos sy voorganger..

“Natuurlik, hy het dit dan reeds vantevore met die o.21 Springbokke gedoen toe hy vir hulle in 2005 Węreldbeker-glorie laat proe het,” beaam sy pa, ook Peter.

Die afgelope week was De Villiers reeds volstoom aan die werk want hy het onmiddellik na sy aanstelling begin werk.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za