DIE skoolhoof van LK Zeeman Primêr, Fabian Meyer, glimlag breed, want die geld vir die opgradering van die sekuriteit by die skool is deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se veilige skole-afdeling goedgekeur.
“Dit kon wraggies nie anders nie, want die skool het hewig onder inbrake deurgeloop.”
By die skool is verlede jaar 13 keer ingebreek en dit het die skool duisende rande gekos aan onkoste om die skade te herstel en selfs ’n sekuriteitswag aan te stel.
“Na vertoë aan die Onderwysdepartement se afdeling vir veilige skole, is ’n bedrag van omtrent R210 000 goedgekeur vir die opgradering van die skool se infrastruktuur.
“Nou kan ons weer ons onverdeelde aandag aan onderrig bestee, want die kinders kan nie onder sulke omstandighede skoolgaan nie,” het Meyer gesê.
Altesame R16 000 word spandeer vir die installering van ’n alarmstelsel, R20 000 vir die speelpark-omheining, R13 000 vir die gemotoriseerde hek by die hoofingang en die drie blokke klaskamers se vensters kry versterkte diefwering ten bedrae van R130 000.
’n Verdere R40 000 sal gebruik word vir die aanbring van “Stoneguard,” ’n metaal-sifversterking voor al die skoolvensters wat moet keer dat die ruite uitgegooi word.
Kontrakteurs is tans hard besig om aan hierdie opgraderingswerk by die skool te werk en die alarmstelsel met gewapende reaksie, is reeds voltooi wat nou nie net die administrasieblok dek nie, maar ook al die klaskamers en selfs toilette.
Die sekuriteitshek met interkom-dekking by die hoofingang is reeds geïnstalleer, sodat toegang tot die skool bedags onder streng kontrole geskied.
Meyer het gesê dat die werk aan die omheining van die speelpark reeds Dinsdag begin het en dat dit oor die naweek voltooi gaan word. Werk aan die venster-diefwering het ook reeds begin om die skool in die nuwe jaar meer veilgheidsparaat te maak.
“Ek wil almal bedank wat hier gehelp het met die aanspreek van die skool se veiligheidsituasie, van die ouers en polisie tot die onderwysdepartement.
Ná ’n berig in die Paarl Post wat onlangs die inbraakprobleem by die skool uitgelig het, het ek net goeie terugvoering van die gemeenskap gekry. Dit lyk of hier nou weer ’n positiewe gees te bespeur is, nie net onder die opvoeders nie, maar ook onder die kinders,” het Meyer gesê.
Meyer het weer ’n beroep op die gemeenskap gedoen om groter verantwoordelikheid vir die skool te neem om dit op te pas.