PERDERASSE wat oor baie geslagte ’n onontbeerlike rol op plase in die Drakensteingebied vervul het, gaan van die hoofrolspelers wees by die Hoefslagfees Saterdag 2 Februarie op die Crow’s Nest Wynlandgoed in die Agter-Paarl.
Skouspelagtige perdevertonings wat mekaar vinnig afwissel, is die hoofdis, maar daar gaan ook hondekompetisies en bluesrockmusiek tydens en ná sonsondergang deur die bekende groep, The Thunderbirds, wees.
Die hoofarenaprogram, wat om 10:30 ’n aanvang neem, sluit optredes deur tradisioneel bekende perderasse soos die SA Vlaam-, Fries-, Percheron- en Hackneyperde in, maar ook ponierasse en die immergewilde kleinste perdjies in die land, naamlik SA Miniatuurperde.
Tydens hierdie fees word die klem egter ook op die kleredrag van beide vertoners en die publiek gelę.
“’n Mode- en kostuumfantasie” is die hooftema van hierdie geleentheid.
Die doel van die fees is immers om ’n feestlike, kleurvolle atmosfeer vir almal te skep, sę die hooforganiseerder, Marcel de Reuck.
Tydens die arenaprogram word geleentheid gebied vir vertoners om in verskeie afdelings met uitsonderlike kleredrag, die oudste of nuutste modes en selfs kostuumdrag te paradeer.
Daar is selfs ’n item waarin perde self met die mooiste of eienaardigste uitrusting uitgedos kan wees!
Die publiek word ook versoek om die fees in kostuums of in modedrag by te woon.
’n Kis met van Crow’s Nest se beste wyne is op die spel vir die besgeklede paartjie.
Toegangsgeld is R50, terwyl senior burgers R30 moet betaal. Kinders onder 12 jaar het gratis toegang.
Die publiek kan gerus kussings, komberse, sambrele en selfs hul gazebo’s saambring.
Vir meer besonderhede, skakel Marcel de Reuck by 082920-4788 of Hennie Basson by 072-273-6042.