DIE landdroshof in die Paarl steier vandag steeds ná die brand wat verlede week in nagtelike ure chaos by die hof gesaai het.
Die voorlopig beraamde skade van die verwoesting is bykans R10 miljoen.
Die brand het in die vroeë oggendure van Woensdag uitgebreek in die administratiewe deel van die siviele hof, glo weens ’n elektriese kortsluiting.
Verskeie kantore is in puin gelê, sowel as die kantoor van die waarnemende hooflanddros, Muradjee Naik.
Twee hofsale het ook gely onder die verwoesting.
Honderde uiters belangrike hofdokumente is vernietig en daar is gevrees dat van dié dokumente nie vervangbaar is nie.
’n Woordvoerder van die hof het egter die versekering gesê dat daar wel kopieë van al die verlore dokumente is.
“Diegene wat gedink het dat hulle skotvry gaan wegstap ná die brand, moet weer dink. Al ons dokumentasie is gedupliseer en al draai ons wiele nou ’n bietjie stadig ná die brand, draai hulle steeds.
“Skielik is daar mense wat nie hulle onderhoud of boetes wil betaal nie, maar hulle sal vervolg word.”
Alle onderhoudsbetalings is voortgesit by die streekhof in Hoofstraat.
Nadat hofgangers verlede Woensdag en Donderdag by die streekhof geholpe is, het besigheid Vrydag teruggekeer na die onbeskadigde gedeelte van die hof.
Die swaar reuk van rook wat steeds in die lug hang, is egter ’n stille getuienis van die brand.
Sake het wel teen ’n slakkepas verloop, want die brand het die ganse hofgebou sonder krag óf telefoonkommunikasie gelaat.
Bergingswerkers het ’n reuse taak gehad om die verwoesting op te ruim, voordat herstelwerk aan die elektrisiteit en telefone kon begin.
En tussen die chaos deur het die wiele van die gereg steeds gedraai.
“Ons kon vandeesweek geen hofsaal gebruik nie, weens ons krag wat nie werk nie, maar ons het steeds sake aangehoor in die kantore.
“Sake word tans hoofsaaklik net uitgestel en daar word geen borgaansoeke aangehoor nie.
“As daar wel ’n uitsonderlike geval is wat dringend moet voorkom in die hof, het ons reëlings met die streekhof aangegaan om hul fasiliteite te gebruik as ’n hof daar beskikbaar is.
“Ons probeer almal akkommodeer en hopelik sal dinge binnekort na normaal terugkeer.”
Prokureurs was egter nie so positief nie. Hulle voer aan dat hul kliënte langer agter tralies moet sit en dat sake voorts baie vertraag gaan word.
* The wheels of justice have still been turning at the Paarl Magistrate’s Court, after it was severely damaged by a fire.