SWENDELAARS wat vermoedelik reeds ten minste twee besighede bedrieg het, het hul vasgeloop in die lang arm van die gereg toe hulle nog ’n plaaslike besigheid wou indoen.
Paarl Post het verlede week berig oor Beds4U en Boulevard Liquors wat tesame R37 000 verloor het nadat ’n onbekende man by hulle bestellings geplaas het vir goedere.
Nadat hy die betalings by die bank gedoen het, het hy die betaalstrokies per faks aan hulle gestuur. Dit het gelyk asof alles in orde was en die goedere is opgelaai en weggeneem.
Die eienaars van hierdie twee winkels is eers later deur hul banke in kennis gestel dat die tjeks nie geldig was nie.
Vrydag het ’n man vir Wild Liquors geskakel om R12 500 se drank te bestel.
Die oproep is deur Thinus van Staden ontvang en dadelik het sy waarskuwingsligte geflikker.
“Ek het besef dat dit waarskynlik dieselfde swendelaars is wat die ander besighede in ’n strik gelei het. Ek was vasbeslote om nie nog ’n slagoffer te word nie.
“Maar ons het saamgespeel en ook ’n faks ontvang wat die betaling bewys het. Dit het egter baie verdag gelyk. Ek wou gehad het dat die skelms vasgetrek moet word en ek het die polisie hiervan in kennis gestel.
“Die man het vir ons gesê dat hulle laatmiddag die drank sal kom haal, maar het eers 19:30 gebel en gesê dat hulle op pad is. Toe sê ek vir hom dat ons toemaak weens die kragonderbreking.
“Daar is ooreengekom dat hulle die volgende oggend dit sal kom haal.”
Die polisie is van al hierdie bewegings op hoogte gehou en die volgende oggend het hulle die swendelaars ingewag.
Voordat die voertuig wat die drank sou oplaai voor die winkel stilgehou het, het verdagte mans eers die perseel fyn deurgekyk voordat hulle die bakkie nader geroep het.
Dit is toe dat die polisie toegeslaan en die mans op heterdaad betrap het.
Drie mans van Kaapstad is in hegtenis geneem in verband met bedrog en diefstal.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat alle leidrade nou ondersoek word om vas te stel of dié mans ook betrokke was by die vorige bedrogsake.
* A group of men have been arrested in connection with defrauding various businesses in Paarl.