Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Donkerwerk is konkelwerk

Donkerwerk is konkelwerk
 
2008-01-24


MET die kwik wat sweet op 38 grade in die Paarl en Wellington, moes boere die afgelope twee weke met die kragonderbrekings haastig plan maak om sonder besproeiing en sonder verkoeling hul oeste te red.

Dis ook nie net oeste wat in die gedrang is nie, maar plukkers en pakkers se loonkoevert word met elke uur sonder krag, dunner.

Melkkoeie loop die gevaar van te vol uiers en selfs mastitis, wanneer beurtkrag maak dat melktye verskuif moet word.

Op Salomonsvlei buite die Paarl word Danie Malan se Frieskoeie elke agt uur gemelk: om sesuur soggens, smiddae twee-uur en agtuur saans.

Wanneer die krag saans afgaan, beteken dit die koeie moet met ongemaklik geswolle uiers wag, soos Maandagaand gebeur het, tot 23:00 die nag.

Dit het ook beteken dat die melkerypersoneel eers moes huis toe gaan, en later die nag weer moes inkom om te werk.

Wanneer die krag in die dag afgaan, kan die melk in die houertenks nie afkoel nie en word dit suur.

Besproeiing is ’n duur kopseer, met skedules wat onderbreek word en pompe wat in die middel van die nag weer aangeskakel moet word.

Groenteboere sonder kragopwekkers, waar pompe sonder krag nie water kan voorsien nie, ly derduisende rande skade met plantjies wat brand.

Tafeldruiwe word uit die wingerd eers in hoë humiditeit afkoeling geplaas, voor­ dit in ’n lugverkoelde pakstoor verwerk word.

Tydens ’n kragonderbreking is dit nie net warm en donker in die stoor nie, maar dan vloei die water waarin afvalkorrels geknip word, ook nie.

In die Cotta Trade vrugtepakstoor op Salomonsvlei is dit stikdonker in die koelkamers en pakhuis tydens ’n kragonderbreking. Die vrugtegradeerder beweeg nie.

Die vrugte wat vars uit die boorde kom, staan in warmte en verloor kwaliteit.

“Die grootste probleem is werkverlies, en die gevolglike verlies aan inkomste, vir die werkers,” sê Malan.

“Dis eers wanneer die vrugte hul bestemming bereik, dat ons weet wat ons moes inboet as gevolg van gebrek aan kwaliteit.”

“Ek het my huiswerk gedoen,” het Malan gesê.

“Vir die hele plaas - die melkery, die vrugte en die druiwepakkery - sal ’n kragopwekker seker oor ’n miljoen rand kos.

“Behalwe dat daar ’n drie weke waglys vir kragopwekkers is, weet ek nie of dit lewensvatbaar is en die koste dit regverdig nie.”

* Local farmers and also farm labourers are hard hit by the disrupted power supply.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za