Gee die jeug 'n kans...
2005-06-15
ONS moet geleenthede skep vir jongmense waar hulle praktiese ervaring kan opdoen en selftrots ontwikkel. Hulle verdien dit.
Só sê Eddie Williams van die Koinonia sentrum in Paarl oor hulle nuwe internskap van drie maande.
“Ses werklose jongmense kry nou die kans om te leer, te groei en bydrae te lewer terwyl hulle ook ’n bedraggie ontvang.”
Williams sê die ses het verskeie verantwoordelikhede, soos uitreikings, dienste aan die gemeenskap en veral ander jongmense, verskaf van inligting en bekendstelling van Koinonia se dienste.
Intussen ontvang hulle opleiding in jeugberading, werkgereedheid en lewensvaardighede. Denzil Adams tree op as supervisor en mentor vir die ses.
“Dié is ’n loodsprogram en dit word ten volle aangebied, gefinansier en geadministreer deur ons.
“Ek wil graag ander organisasies en maatskappye uitdaag om dieselfde te doen, veral nou in Jeugmaand.”
Hy sê Koinonia sal enige tyd help om jongmense te werf vir sulke programme. Skakel hom 872-2141/2/3/4.
WIE is dié ses jongmense?
Bradley Shaun Fortuin: ’n Jong skrywer-entoesias wat homself as ’n fenominale denk-skepper beskou en een wat ’n obsessie het met kreatiwiteit. Hy is vasberade om hom in jeugontwikkeling te bekwaam.
Constance Bali: Sy is ’n jong dame wat baie goed luister en is ’n kenner van harde werk en toewyding; spesifiek oor dinge aangaande jeugontwikkeling. Sy hoop om beter rekenaar- en bemarkingsvaardighede te verkry.
Nicholas van Reenen: Beskou homself as een wat lief is vir mense, wat altyd sy beste voorsit. Hy hoop om homself te vind deur hard te werk en te help waar hy kan.
Sydwell Magocoba: ’n Sterk leier met goeie aanbiedingsvaardighede. Hy is hoogs gemotiveerd en hoop om ’n dieper verstandhouding van jeugontwikkeling te kry.
Elton Fortuin: Hy sien homself as ’n positiewe rolmodel wat sy gemeenskap diens met eerlikheid en uitstekendheid. Die program is ’n kans om homself op te skerp in jeugontwikkeling en beskou dit as ’n eer om van die eerste KCC Interns te wees.
Quinton Pietersen: Is die rekenaarspesialis en ook ’n entoesias van verskeie sportsoorte. Sy verwagting is om sy kommunikasie- en aanbie-dingsvaardighede te verbeter.
More
News
|