“DIT is wensdenkery om Paarl Web weg te wens. Hulle is hier om te bly,” het raadslid Arthob Petersen verlede Woensdag by ’n publieke vergadering gesê waar inwoners hul klagtes oor die fabriek gelug het.
Die inwoners van Denneburg is die afgelope paar jaar in gesprek met Drakenstein Munisipaliteit en Paarl Web, een van die grootste werkverskaffers in die Paarl, oor die emissies van die tydskrifdrukkery se oonde en die geraasvlakke van masjinerie en swaarvoertuie, veral snags, aangesien die fabriek 24 uur per dag loop.
’n Publieke vergadering is verlede Woensdag met behulp van fasiliteerder Ninham Shand en onder voorsitterskap van burgemeester Charmaine Manuel tussen dié drie partye en die Departement Omgewingsake gehou om die probleem aan te spreek en na moontlike oplossings te kyk.
Onder die sprekers was Jimmy Knags van die munisipale ingenieursafdeling, wat ’n oorsig van die klagtes en optredes sedert 1994 gegee het, asook Hans Linde, in beheer van lugkwaliteitsbestuur by die Departement Omgewingsbewaring.
Die fabriek het in 1993 geopen, en in 2006 is groot uitbreidings van R150 miljoen aangepak om die groeiende tydskrifmark te akkommodeer.
Gedurende die bouproses is aandag gegee aan klankdemping en sover moontlik is aktiwiteite verskuif om geraasvlakke te beperk.
Een van die inwoners, Pieter Dawids, is van mening dat hulle frustrasies begin het by die Drakenstein Munisipaliteit wat ses maande gevat het om te reageer op hul oorspronklike klagtes.
“Ons onderhandel al vir jare. Paarl Web gee nie om vir ons nie”, het ’n baie ontevrede Dawids gesê.
Nog ’n ontevrede inwoner, Dirk Vermeulen, het hom beroep op Oorlaswetgewing en gekla dat daar geboue benut word deur Paarl Web as rolperssale waar die bouplanne slegs vir papierstore goedgekeur is.
Volgens Christoff Botha, besturende direkteur, het Paarl Web reeds die nodige aansoeke ingedien om die veranderinge aan die geboue aan te bring.
Jacques de Lange, ook van Panoramastraat, is ontevrede omdat sy kinders dikwels nie buite kan speel nie.
“Daar is toetse gedoen en vergaderings gehou. Maar my kinders kan nie eens buite speel nie, ons kan dikwels nie braai nie, want as daardie besoedelde gasse van Paarl Web waai, dan kan jy nie asem haal nie weens die paraffienreuk,” sê De Lange.
Die burgemeester, Charmaine Manuel, het in haar openingstoespraak ontken dat die Munisipaliteit die klagtes van die inwoners geïgnoreer het.
“Daar was wel ’n lang konsultasieproses en ’n fasiliteerder is nou aangestel. Dit is ’n baie tegniese en sensitiewe situasie en alle rolspelers het hul eie menings.
“Dit is die Munisipaliteit se plig om op te tree in die beste belang van alle rolspelers. Dus moet ons saamwerk om ’n wenwen situasie te bereik vir die groter gemeenskap in Drakenstein,” het Manuel beklemtoon.
Knaggs het beklemtoon dat wetgewing op industrieë die afgelope paar jaar strenger geword het, en dat Paarl Web verskeie stappe gedoen het om die emissies, wat ’n byproduk van die drukproses is, te beperk.
Die firma het in 2005 ’n Duitse lugsuiweringstelsel geïnstalleer wat die vorige borselsuiweringsisteem vervang het. Die installasie het egter nie vlot verloop nie, wat groot frustrasie by inwoners en die Munisipaliteit veroorsaak het.
Na verskeie pogings van Paarl Web om dit te verbeter, is besluit om eerder ’n ander stelsel te koop, wat in Oktober verlede jaar aangebring is.
Daar word nou beoog om geraas te verminder deur verbeterde insulasie van geboue en dakke. ’n Aanliggende eiendom kan moontlik aangekoop word om aan afleweringsvoertuie ’n ander ingang te gee.
Volgens Christoff Botha, besturende direkteur van Paarl Web, is dit ongelukkig dat die snelgroeiende besigheid teenaan ’n woonbuurt geleë is.
“Die sonering van die perseel is industrieel, en ons is dus binne ons regte. Eerder as om die fabriek te sluit en na Kaapstad te skuif, wil ons graag die ongerief van ons bure soveel as moontlik beperk en die werkgeleenthede vir die Paarl behou.”
’n Forum wat die gemeenskap, die Munisipaliteit en Paarl Web verteenwoordig, is by hierdie vergadering saamgestel om kommunikasie tussen die firma en sy bure te verbeter.
Hierdie forum sal nou probeer om oplossings te vind en ’n wen-wen situasie te bereik.