EK wil graag ’n vriendelike versoek rig aan die munisipaliteit om so spoedig moontlik spoedwalle in Voorstraat op te rig.
Ek ry elke dag met hierdie pad na my werk en is geskok oor hoe roekeloos mense in dié straat bestuur.
Taxi’s stop net eenvoudig dood voor jou sonder enige flikkerligte, om passasiers op te tel, en die lang oop straat maak dit ’n gewilde “kyk hoe vinnig kan ek by jou verby” pad.
Hierdie straat is vol onomheinde huise met kinders en troeteldiere.
Die afgelope twee weke moes ek twee keer honde probeer help wat raakgery is.
Vanoggend ry ek in Voorstraat af toe ek ’n hond langs die pad sien lê. Ek draai om en toe ek by die hond kom, wat nog gelewe het, kom ’n vrou uit die huis en sê, “ja, die sekuriteitsmense wat haar raakgery het, het net weggery”.
Ek was betyds om te sien hoe die hond haar laaste asem uitblaas, haar gesiggie vertrek van pyn.
Aan hierdie ‘skitterende’ sekuriteitsmaatskappy – as jul diens so meelewend aan jul kliënte is soos jul optrede na die tref-en-trap van ’n hond – wil ek beslis nie deel van die kliëntebasis wees nie.
Aan die eienaars in Voorstraat – omhein jul erwe en maak so seker jul diere kan nie in hierdie besige straat kom nie.
Spaar nie net julself hartseer nie, maar voorkom ook so gevaarsituasies vir die motors wat moontlik uitswaai om ’n hond te mis.
Aan die munisipaliteit – vind dit asseblief êrens in jul begroting om hier spoedwalle op te sit. (Daar is onlangs in ’n straat in ’n stil woonbuurt spoedwalle gesit.)
Die afgelope weke was dit honde. Volgende week is dit dalk ’n kind.
Moeg vir hartseer