Franschhoek slag Klapmuts
2008-01-31
SATERDAG het Franschhoek Krieketklub as oorwinnaars getree uit sy derby-wedstryd teen Klapmuts. Op ’n snikhete somersdag het Franschhoek die loot verloor en is gevra om eerste te kolf. Klapmuts het vroeg toegeslaan deur die aanvangskolwers van Franschhoek goedkoop uit te haal. Ná die val van die eerste vier paaltjies het Llewellyn Walters na die kolfkampie getree en 120 lopies (15x4 en 7x6) aangeteken. Met ’n uitstekende kolfbeurt het Arleon Davids (kaptein) 50 lopies (3x4 en 5x6) van slegs 14 balle aangeteken. Franschhoek het op die ou einde daarin geslaag om 287/8 in sy toegelate 40 boulbeurte aan te teken. Klapmuts se beurt het rampspoedig begin toe Arleon Davids, Klapmuts se aanvangskolwers ontsenu het met sy blitsballe. Die span van Klapmuts is almal uitgeboul vir 177 lopies. Walters was sy span se beste bouler (5/5) en is welverdiend aangewys as die speler van die wedstryd.
More
News
|