Paarl-Oos stof Bergrivier af
2008-01-31
Jaco van Wyk
DIE krieketspan van Paarl-Oos het Saterdag vinnig klaargespeel met Bergrivier in hul kragmeting op New Orleans. Paarl-Oos het eerste gekolf en ’n skaflike lopietotaal van 265/5 aangeteken. Kurt Julie (63, 6x4), Elroy Abrahams (55, 2x5), en Bruce Miller (51, 8x4) was die tuisspan se beste kolwers. Vir Bergrivier het Andre Abrahams (2/38) goed geboul. Bergrivier het met sy kolfbeurt nie lank gestaan nie. Paarl-Oos se boulaanslag was heeltemal te sterk en die besoekers is vir slegs 47 lopies huis toe gestuur. Tiaan Cloete (5/19) en Elroy Abrahams (5/24) het geskitter met die bal. Saterdag het Paarl-Oos II vir Bergrivier II op Weltevrede geklop met 9 paaltjies. Vir die besoekers het Mornay de Vries (103*, 14x4 en 4x6) gekook met die kolf. * Saterdag speel Paarl-Oos I ’n wegwedstryd teen Wellington I. Paarl-Oos II speel tuis teen Wellington II en Paarl-Oos III speel tuis teen Brackenfell. * Saterdag bied Paarl-Oos karaoke aan in die klubhuis by New Orleans. Toegang is R10.
More
News
|