Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland bal vuis

Boland bal vuis
 
2008-01-31

Jaco van Wyk

DIE Boland Kavaliers het Saterdag wel weer vasgeval, maar dié keer het die span van Wellington eers vuis gewys vir die Vodacom Bulls, voor hulle uiteindelik met 35 - 14 verloor het op Boland-stadion.

Die Kavaliers het met hart gespeel en geweier om terug te staan vir die hoog-aangeskrewe voorspelers van die Super 14 kampioene.

Die oorgawe waarmee die Kavaliers verdedig het, en veral by die afbreekpunte hul man gestaan het, het halftyd aan hulle ’n voorsprong van 7-0 oor hul besoekers gelaat - dít terwyl die Bulls op volle sterkte was.

Na halftyd het die Bulls van hulle groot kanonne vervang, en die vars bene was wat op die ou einde die wa deur die drif getrek het vir die span van die noorde.

Toe die besoekers Springbokke soos Bryan Habanna, Wynand Olivier en Fourie du Preez vervang het, het die agterlyn van die Bulls ewe skielik gevaarliker begin lyk op die aanval.

Die Bulls het 5 drieë in die tweede helfte gedruk.

Veral John Mametsa het lus gelyk vir hardloop en hy is beloon met 2 drieë op die dag.

Danwel Demas het ook goed vertoon, en Derick Hougaard het gewys hoe belangrik ervaring is toe hy in die tweede helfte opgestuur is.

Hougaard het uitstekend geskop en met vyf uit vyf doelskoppe na die pale geslaag.

Dit wou heeltyd voorkom of die Kavaliers vir ’n amperse verrassing kon sorg, tot die Bulls hul laaste drie aangeteken het nadat die sirene reeds afgegaan het.

Die Kavaliers het reg deur die wedstryd hard probeer, en dit was juis in die tweede helfte, toe dit gelyk het of die Bulls hul ritme begin vind het, wat die Kavaliers teen die verloop van die wedstryd weer vorentoe begin beweeg het.

Na goeie voorspelerspel het die Kavaliers se skrumskakel, Dewald Duvenage, die klein kantjie gebruik om vir Ashwell Peters weg te stuur vir ’n puik drie.

Met die nuwe reëls wat in die Super 14 reeks gebruik gaan word, veral die reël wat spelers toelaat om vir die bal te veg by die afbreekpunte, het die Bulls gesukkel. Hulle sal hard moet skaaf as hulle dié afdeling van hulle spel wil opknap.

Aan die ander kant lyk dit of die Kavaliers beslis ’n krag gaan wees in die jaar se Vodacombeker.

* Punte: Bulls 35 (0) X Drieë: Danwell Demas, John Mametsa (2), Werner Kruger, Marius Delport.

Doelskoppe: Derick Hougaard (5).

Boland 14 (7) X Drieë: Monray Liebenberg, Ashwell Peters.

Doelskoppe: Lionel Cornelius (2).




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za