Projek hou magies vol
2008-01-31
DANKSY die harde werk en skenkings van vrywilligers van die omgeeprojek Ma’s-vi-Wellington, is meer as 5000 etes gedurende die Desembervakansie aan plaaslike kinders verskaf. “Dit vorm deel van hul projek Vol Magies Vol Vreugde,” vertel organiseerder Stephanie Henderson, “en ons wil net vir almal dankie sê wat gehelp het om soveel honger magies vol te maak.” Sy vertel dat hulle aanvanklik beplan het om 175 kinders elke Maandag, Woensdag en Vrydag kos te gee, aangesien hulle gedurende die vakansie nie sou kon baat vind by die gereelde voedingskema by skole nie. “Die getalle het egter elke keer gegroei en daar het tot 400 kinders per dag kom tou staan vir ietsie te ete,” onthou sy. “Dit was ’n voorreg om 2007 af te sluit deur Jesus se hande en voete vir ons Wellington kinders te wees,” verduidelik sy die visie van Ma’s-vi-Wellington. “Ons verwagting vir 2008 is groot en ons weet dat met die ondersteuning van die gemeenskap in Wellington ons ook ’n groot verskil sal maak in ons kinders se lewens vir vanjaar,” glo Stephanie. Sy het belangstellendes genooi om by hul verskillende projekte betrokke te raak, deur ‘n kind se etes vir twee dae per maand te borg teen R60 ’n kind, of een keer per maand ’n eenvoudige ete vir 30 kinders te maak. Belangstellendes kan Dinsdae en Vrydae om middagete kom help om kos uit te deel. Nog ’n groot behoefte is iemand wat rekenaarvaardig is en kan help met administratiewe take, bemarking en terugvoer aan die gemeenskap. Benewens die voedingskema is Ma’s-vi-Wellington vanjaar ook betrokke by die insameling van klere en skoene vir kinders, ’n tweejaarlikse bederfdag vir ’n groep kinders met ’n boodskap as fokuspunt, en die insameling van komberse vir die winter. Daarby samel hulle ook geld in om vir ’n jong seun ’n elektriese rystoel te help koop.
More
News
|