VIR party is die voubiljette wat mens binne pilhouers kry, eenvoudig Grieks, of hulle kan hulself nie ’n bloue duit steur aan wat daarin staan nie, solank hulle net weet hoeveel kapsules om te drink en wanneer.
Ander mense weer, lees dié dun wit velletjies papier tot op die letter deur, van die lys newe-effekte tot die vervaardiger.
En dan kry ’n mens die enkeles wat hul doktorsgrade daaraan wy, soos Janine Maske van Klein Waterval in die Bovlei.
Of sy ooit weer na hierdie studie so ’n voubiljet gaan lees sonder om haar jare se nougesette navorsing te onthou, is te betwyfel,.
Minstens is sy ’n goeie persoon om te kontak as jy self nie ’n idee het wat die instruksies van die mediese inligtingstuk beteken nie.
Haar kwalitatiewe en kwantitatiewe DLitt studie kyk na die kwaliteit van die Afrikaans op mediese inligtingstukke en hoe dit deur die lesers verstaan word.
Vir die doeleinde van haar studie het sy deur meer as 400 voubiljette gewerk.
Janine se fokus was op hoe Afrikaans moedertaal vroue in die Wes-Kaap die inligting verstaan wat aangebied word oor ’n algemeengebruikte soort voorbehoedmiddel.
“Die dilemma is hoe mense medisyne gebruik, en dat hulle nie noodwendig hou by die instruksies wat gegee word nie.
“Baie keer verstaan hulle eenvoudig nie die inligting nie, of hulle word so afgesit van dit wat verskaf word dat hulle dit nie lees nie.”
’n Interessantheid wat te voorskyn gekom het, is hoe baie Afrikaanssprekendes die Engelse weergawe verkies.
“Baie keer is die Afrikaans vir hulle te obskuur, omdat terminologie in die vertalingsproses geskep moes word en dit dus te kunsmatig lees.”
Daarby is farmaseutiese maatskappye doelbewus vaag in hul aanbieding van inligting om hulle van onvoorsiene voorvalle te vrywaar.
Benewens haar onderwerp van studie, is die eintlike interessantheid dat dié Engelssprekende dogter van Britse ouers besig is met haar doktorale verhandeling aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans Nederlands, en nie in die mediese fakulteit of as deel van die Departement Engels soos wat ’n mens eerder sou verwag nie.
Trouens, al haar vorige voorgraadse en nagraadse studies is op die vakgebied van Afrikaans, en meer spesifiek die tegniese taalkundige aspekte daarvan.
Dié eertydse vertaler en dosent, wat onder meer vir jare die tegniese terminologie van Toyota Suid-Afrika en die Johannesburgse Munisipaliteit in Afrikaans omgesit het, het op skool reeds ’n besluit geneem om haarself in Afrikaans te skoei.
“Toe ek grootgeword het in die 1970’s was die werksgeleenthede in die taalkringe met Afrikaans gemoeid, met baie projekte wat gefokus het op die uitbreiding daarvan. Omdat ek nie noodwendig ’n joernalis wou word nie, het ek besluit dat ek Afrikaans nodig het.”
Dit het beteken dat sy haar ouers moes oortuig dat sy haar laaste skooljare in Johannesburg aan ’n Afrikaanssprekende kloosterskool kon deurbring.
Daar het sy Afrikaans leer besig aan die hand van Ierse nonne wat jare vantevore na Suid-Afrika gekom het.
Daarna is sy na die Universiteit Stellenbosch, waar Marlene van Niekerk, Hertzogpryswenner en skrywer van Triomf en Agaat, haar kamermaat was.
Haar meestersgraad aan Unisa het die gewigtige taak gehad om na die omskrywingskonstruksie in politieke beriggewing te kyk.
“Dis eintlik snaaks dat ek so in die taalkunde in beweeg het, aangesien ek eintlik meer kreatief is,” vertel Janine, wat ’n jaar of wat gelede ’n Engelse digbundel, All the Rage, oor die oorlog in Irak self uitgegee het en ’n passie vir goeie letterkunde het.
So tussen haar studies deur, wat nou al oor meer as ses jaar strek, is sy ook gemoeid met Klein Waterval se wynmakery.
Hul merlot, cabernet en chenin blanc word onder die Maske wynetiket versprei. Dié wynliefhebber doen ook van tyd tot tyd vryskutskryfwerk vir die wynbedryf.
Haar oogmerk is om weldra, graad in die hand, konsultasiewerk vir die mediese bedryf te doen, en met genoeg gesag haar mening oor spesifieke verwante taalkwessies en wetgewing wat dié professie raak, te kan lug.
Maar eers wag die finale oorskryf van haar tesis, tot in die fynste besonderhede totdat sy heeltemal tevrede is daarmee, en sy einde volgende jaar die rooi doktorale toga van die Universiteit Stellenbosch kan omhang.