Bedrieër gaps byna voertuig
2008-01-31
PERSONEELLEDE van Droomers in die Paarl het verlede week ’n sug van verligting geslaak toe hulle besef het dat hulle byna slagoffers was van die vermeende bedrieër, Shaun de Canha. De Canha het onlangs by Nr 1 Eiendomme se kantoor ingestap en dringend ’n huurhuis gesoek. Franni Page het vir hom ’n huis gaan wys en hy het dadelik geteken. Later die middag het hy bevestig dat die huur en deposito per internet betaal is. De Canha wou ook na eiendom gaan kyk om te koop. Na sy behoeftes bepaal is, het Page hom een huis gaan wys wat ook ’n gastehuis is. Hy het met die eienaar van die eiendom, Cobus Gouws, gesels en dié aand in die gastekamer geslaap. Die volgende dag het hy ’n koopkontrak op die eiendom geteken. Hy het rekenaarstrokies aan Page oorhandig wat toon dat die huurgeld sowel as die volle koopsom oorbetaal is. Intussen het Gouws laat weet dat De Canha nog nie betaal het vir die aand se oorslaap nie en dat hy ook nog nie Koningsrus se sleutels teruggebring het nie. Page was onrustig en het met Nedbank geskakel oor die internetstrokies. Hier is onreëlmatighede op die strokies uitgewys. Dit blyk toe dat De Canha se rekening al in 2006 gesluit is, en dat hy die strokies self op die rekenaar vervals het. Nedbank het gesê dat dit so maklik is om dit te doen dat ‘n kind kan! Nou moes daar vinnig gespeel word. Page het die niksvermoedende De Canha by Nr 1 Eiendomme se kantoor besig gehou terwyl haar kollega, Lizbé Peyper, ’n speurder gaan haal het. Gouws het ’n vriend by Interpol gebel en dit het aan die lig gekom dat De Canha reeds ’n lys van oortredings teen hom het vir bedrog. De Canha se bedrieëry het toe op ’n einde gekom. Hy is gearresteer en is tans in aanhouding. Sontie Bruwer van Droomers het byna ook in De Canha se slagyster getrap toe die vermeende bedrieër byna daar weg is met ’n voertuig ter waarde van bykans R300 000. Volgens Bruwer wou De Canha die voertuig koop, maar wou dit eers oornag toetsbestuur. Hulle het ingestem, op een voorwaarde dat hy sy duursame Lexus waarmee hy gery het, by hulle laat. Hy het ingestem en sou later die motor kom haal. “De Canha het nie opgedaag nie en toe ek ’n nommer skakel wat hy by ons gelaat het, het sy `vrou’ nie geweet waar hy is nie. “Toe ek ’n paar dae later weer skakel, het sy vir my vertel dat hy in die tronk sit.” Met die berig wat verlede week in Paarl Post verskyn het oor die doen en late van De Canha, was Bruwer tog te bly dat hy nooit die voertuig kom haal het nie. “Wie weet waar dit nou sou wees.” * An alleged fraudster who was caught in Paarl recently, almost defrauded a well -known car dealer in Paarl.
More
News
|