Nog ’n sakeman ingeloop
2008-01-31
NOG ’n Paarl sakeman het in die slaggat beland van bedrieërs wat tans die Paarl op hol het. Dit volg enkele weke nadat twee besighede, Beds4U en Boulevard Liquors, tesame R37 000 verloor het nadat tjeks vir aankope ongeldig verklaar is. In beide voorvalle is groot bedrae aankope gedoen deur ’n Xhosasprekende man vanuit Kaapstad wat homself ene Dube genoem het. Hy het die bedrae aan die besighede direk inbetaal by die bank, en het vir hulle bankstrokies gefaks as bewys hiervan. Op die bankstrokies het dit aangedui dat die betalings wel in kontant gedoen is en hulle het toegelaat dat die goedere weggeneem word. Dae later is hulle albei deur hul banke ingelig dat die tjeks wat in betaal is nie geldig is nie. Die nuutste slagoffer is die bekende Robbie Perold, eienaar van Boland Bikes in Huguenot. Perold vertel dat twee mans, een lank, die ander kort, en beide goed geklee, voorverlede Donderdag by sy winkel aangeklop het om na motorfietse te kyk. “Hulle het belang gestel in twee vierwielmotorfietse ter waarde van byna R16 000. Die dag hierna het een van die mans vir my gebel en gesê hy wil die twee fietse koop. Hy het homself Peter Yengeni genoem. “My verkoopsman het die korrekte stappe gevolg en telefonies al sy besonderhede geneem, asook ’n aansoek-om-te-koop ingevul. “Yengeni het aangevoer dat hy die geld kontant in ons bankrekening sal betaal.“ Die betaalbesonderhede is deur gefaks en volgens Perold was alles bevredigend. “Ek het nog ’n stap verder gegaan om te verseker dat die geld wel in my bankrekening was, en vir Nedbank se korporatiewe tak geskakel. Hulle het vir my telefonies verseker dat die geld daar is, en ek het toegelaat dat die motorfietse opgelaai word.” Dit was dus ’n reuse-skok vir Perold toe hy ’n paar dae later sy bankrekening nagaan en sien dat die bedrag van R15 690 ongeldig verklaar is. Die tjek wat in die bank inbetaal is, is onder dieselfde besigheidsnaam as ’n tjek wat met vorige bedrog gebruik is. Perold is nou briesend oor die manier waarop Nedbank die hele katastrofe hanteer. “Hulle trek net hul skouers op en verwys my navrae van een persoon na die ander. My vrae kan ook nie beantwoord word nie oor hoekom hulle vir my ingelig het dat die geld wel in my rekening was toe ek navraag gedoen het. Waar is ’n mens se geld nou veilig? Beslis nie in die bank nie.” Terwyl Perold se motorfietse opgelaai is, is drie Kaapse mans in hegtenis geneem by Wild Liquors, toe hulle dieselfde bedrog probeer pleeg het. Die op-en-wakker eienaar, Thinus van Staden, het egter onraad gemerk met die eerste oproep vir ’n bestelling drank. Die polisie is in kennis gestel en ’n lokval is vir hulle gestel. Dit is onseker of dieselfde skurke verantwoordelik is. * A well known businessman of Paarl has been defrauded of two motorbikes.
More
News
|