EEN van Suid-Afrika se voorste tenore, Jannie Moolman, gaan Vrydag en Saterdag by die Oude Libertas-amfiteater in Stellenbosch optree.
In dié vertoning, L’Hymne L’Amour, gaan hy onder meer liedjies van sy nuutste album, “Ek kom huis toe”, sing.
Aanhangers kan uitsien na gunstelinge soos L’hymme l’amour, Parisian walkways, Want ek hou van jou en “Nessun Dorma”.
Sy orkes bestaan uit Annake de Villiers (viool), Deveroux van der Hoven (klavier), Mauritz Lotz (kitaar), Theo Klassen (baskitaar) en Rob Watson (dromme).
Jannie Moolman het verskeie toekennings deur die jare ontvang: Die FNB Vita Life Toekenning vir die mees belowende sanger vir die rol van Arturo in Lucia di Lammermoor (1992) en die State Theatre/SAA Opera Foundation Toekenning (1993).
Jannie kom tweede in die Marsala Internasionale Sangkompetisie in Italië en ontvang ook die FNB Vita Life Toekenning vir die beste uitvoering deur ’n manlike sanger.
Kaartjies wissel van R105 tot R125 by Computicket, of die Oude Libertas-kaartjieskantoor by 021809-7473.