DIE swendelaar wat talle Wellingtonners duur te staan gekom het, Colin Rall (37), sal die volgende paar jaar agter tralies sit.
Rall het die sportpromosiefirma Eagle Wave, wat handel gedryf het as Pro Rugby, op Wellington begin.
Hierdeur het hy talle mense oorreed om geld in die besigheid te belê wat rugby-artikels bemark het. Van dié beleggings het daar egter niks gekom nie.
Klagtes van bedrog is teen hom gemaak, en hy is deur die Wellington polisie in hegtenis geneem. By nadere ondersoek, het klagtes van bedrog teen hom landwyd kop uitgesteek en die saak is na die Khayelitsha Streekhof oorgeplaas, en daarna na die Bellville bedrogtak.
Rall is toe ná byna ’n jaar van agter slot en grendel sit, op borgtog van R15 000 vrygelaat. Maar skaars was hy uit die tronk of hy is summier terug na sy ou streke.
Hy het in die Strand begin besigheid doen en het ten minste 15 skootrekenaars op ’n bedrieglike manier by besighede bekom deurdat hy die goedere op huurkoop aangekoop het, en dan vervalste inligting verskaf het.
Rall is weer vasgetrek waar hy geskuil het by ’n rugsaktoeriste-akkommodasieplek op Stellenbosch.
Hy het onlangs ’n pleitooreenkoms aangegaan met die staat en is tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan drie jaar opgeskort is.
*The fraudster, Colin Rall, who caused huge financial losses to many Wellingtonners, has been sentenced to ten years imprisonment