Op Valentynsdag 14 Februarie om 18:30 vir 19:00 word ’n liefdesfees by die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl gehou waar bekende skrywers en digters optree.
Die geleentheid is die inisiatief van ’n nuwe kultuur-organisasie Kairos Kuns- en Kultuurproduksies, wat dié aand bekend gestel word.
Kairos is die breinkind van Petro Rhode, ’n skrywer van die Paarl, wat met gereelde produksies ten doel het om in die behoeftes van kunssinniges te voorsien.
Die fees word aangebied saam met die Taalmuseum.
Die tema van die aand is “Rondom die liefde” en bekende kunstenaars gaan die gaste vermaak met voordrag en sang van lgedigte en liefdesliedjies.
‘n Deelnemers is die digter Diana Ferrus, bekend vir haar gedig oor Sara Baartman.
Diana is op eie bodem bekend, maar het al haar buiging in die buiteland gemaak.
In 2006 het sy ’n Kanna-toekenning vir vernuwende Afrikaanse denke ontvang vir haar optrede in “Hoe lank nog?” by die KKNK.
Die veelsydige kunstenaar Tyrone Appollis gaan met sy fluit en kitaar betower en van sy gedigte voordra.
Floris Brown is ’n deurwinterde digter, komponis en musikant van Worcester wat tydens die Liefdesfees van sy gedigte sal voordra.
Ook vanaf Worcester kom Marius Absalom en Terence Voight, wat saam met Wilma Barry van Kuilsrivier lede is van die Breedevallei Dichters.
Die jong Maryke “B” van die Paarl, wat besig is om opgang te maak in die musiekbedryf, gaan liefdesliedjies sing.
Net so ook die sangeres Agnes Stoffels van Beaufort-Wes kom om haar bydrae te lewer.
Anathe Shande is ’n dramaturg van Wellington wat vir ’n paar minute die draak gaan steek met die liefde.
Die gehoor sal geleentheid kry om self gedigte voor te dra.
Kaartjies (R50) by Petro Rhode 076-304 9627 of die Taalmuseum 021-872-3441.