VIR die volgende twee weke vier die liefde hoogty by die Ou Meul-teater.
Vrydag 15 Februarie om 20:00 is die liefdesverhaal, Unforgettable, te sien by die Ou Meul.
Unforgettable is die storie van Adam, ’n besigheidsman op soek na selfvergewing en na antwoorde.
Vyf jaar nadat hy die liefde van sy lewe gegroet het, bevind hy homself in dieselfde straatkafee waar hy haar die eerste keer gesien het.
Hy begin om los herinneringe van hulle tyd saam aan die kelnerin te vertel.
Unforgettable vra die eeue oue vraag: Is daar vir elkeen van ons net een persoon wat bestem is om by jou te wees? En sal jy daardie spesifike persoon ooit ontmoet?
Die vrou van Adam se verlede en die rol van die kelnerin word baie slim deur dieselfde vrou vertolk, wat die gevoel versterk dat hy weer by ’n kruispad in sy lewe staan.
Hierdie ontmoeting daag hom uit om te hoop dat somtyds, net somtyds, die lewe vir jou ’n tweede kans gee.
Unforgettable is ’n diep roerende storie wat jou vir seker sal inspireer en met nuwe oë na jou lewe sal laat kyk.
Kaartjies is R40.
* Saterdag 16 Februarie om 20:00 vermaak Piet Botha en sy groep, Jack Hammer die gehoor.
Piet Botha en sy groep, Jack Hammer, gaan eersdaags weer ’n nuwe album opneem.
Die album sal “Highway 13” heet en bevat ‘n deurlopende tema wat van die titel afgelei kan word.
Van hierdie nuwe werke sal gehoor word Saterdag by die Ou Meul.
Kaartjies is R60.
* Saterdag 16 Februarie om 10:00 is die alombekende Rooikappie te sien.
Soos in die die sprokie dwaal Rooikappie van die pad af as sy medisyne vir haar siek ouma neem, en verdwaal sy in die bos.
Hier kom sy nare Dolf, die woeste wolf teë, wat blitsvinnig ’n plan smee om haar en haar siek ouma as smaaklike happie te geniet, dalk met ’n sopie plantwortel jenewer, want hy hou daarvan so.
Kaartjies is R30.
Vir besprekings, skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056.