DIE uitnodigingsatletiek van die Hoër Jongenskool het Vrydag op Brugstraat se sportgronde die beste uit deelnemers gehaal, met veral die atlete van Paarlse skole wat geskitter het.
Sterk kompetisie het weer ontstaan tussen HJS, Paarl Gimnasium, Paul Roos, Rondebosch, Wynberg en Sacs, terwyl die meisies van Gim, La Rochelle en HMS, dinge onder mekaar uitgespook het.
Die verspringatleet Ilse Liebenberg (meisies o.19) van Gimnasium het tydens die byeenkoms letterlik onder haar opponente uitgespring en sodoende 705 ASA-punte verdien. Sy het ’n wensprong van 5,40m gelewer.
Ilse het ook die 100m (meisies o.19) met ’n tyd van 12,7 sekondes gewen, en in die 200m (meisies o.19) met ’n tyd van 26,6 sekondes gewen.
Haar prestasies het aan haar die toekenning as beste meisies-veldatleet besorg.
Burnette Jonelle is met haar prestasie in die 110m vir meisies o.15 (13,20 sekondes) aangewys as die beste meisies-baanatleet.
Ruan Maree (seuns o.15) van HJS is as die beste seunsveldatleet aangewys. Hy het in die gewigstoot met ’n gooi van 16,57m, 908 ASApunte verdien. Die toekenning vir die beste seuns-baanatleet het gegaan aan Kurtley du Plessis van HJS. Hy het die o.14, 200m in 23,90 sekondes afgelê.
Ander seuns-atlete van die Paarl wat uitgeblink het tydens die byeenkoms is Tiaan Mouton (HJS, o.14, 90mHekkies, 13,10 sekondes), Devon Williams (HJS, o.16, 100m, 11.20 sekondes), André Pieters (HJS, o.16, 200m, 23,30 sekondes), Drikus Viljoen (Paarl Gim, o.17, 110mHekkies, 14,40 sekondes) en Jaco Joubert (Paarl Gim, o.19, Spiesgooi 60,45m).
Ander meisiesatlete benewens Ilse en Burnette, wat uitgeblink het is Suzaan Broodryk (Paarl Gim, o.19, 800m in 2:22.70), Jean-Marie Senekal (Paarl Gim, 0.17, 100m-Hekkies, 15,20 sekondes), Rouxve Viljoen (HMS o.15 100m, 13,60 sekondes), Jonelle Burnett (Paarl Gim o.19 200m, 27,10 sekondes), Ronel Erasmus (Paarl Gim o.19 Hoogspring, 1,55m), Simoné van Huysteen (La Rochelle o.19 Hoogspring, 1,55m), Marinet Matthee (La Rochelle o.19 800m in 2:26.40), Giselle Botha (La Rochelle o.15 100m, 13,80 sekondes).