DIE kwaadwilligheid van plunderaars, blykbaar jong kinders, het inwoners van PaarlOos woedend oor die stank wat veroorsaak word deur verstopte rioolpype.
Plunderaars steel die deksel en raam van die Drakenstein munisipaliteit se mangate en verkoop dit.
Dan word daar klippe en selfs komberse in die mangate gegooi wat veroorsaak dat die rioolpype verstop.
Jan Botha van Paarl-Oos is warm onder die kraag oor die stank wat veroorsaak word deur rioolwater wat oor ’n oop stuk grond loop reg langs sy huis.
Volgens Botha het hy al telke male met die munisipaliteit gepraat oor die probleem.
“Hulle kom elke keer die plek skoonmaak en net ’n week of wat, dan is dit dieselfde storie,” aldus Botha.
Volgens André Kowalewski van die munisipaliteit is dit jeugdiges wat die raam en deksel van die mangate steel.
“Die deksel en raam van die mangate is 134kg yster wat plunderaars steel en dan verkoop.
“Dan gooi die mense nog klippe in die gate. Ons het verlede week komberse in die rioolpype gekry. Di veroorsaak dat die pype verstop en dan loop die riool die oop land vol en veroorsaak die stank.
“Die munisipaliteit het nie ’n masjien om die gemors elke keer skoon te maak nie. Dan moet ons ’n masjien uit die Kaap huur vir R550 per uur.
“Dit neem ons so agt ure om die gemors skoon te maak. Dus kos dit die munisipaliteit elke keer R4 400 om die gemors uit die rioolpype te verwyder.”
Volgens Kowalewski het die munisipaliteit al met die plaaslike polisie ook geskakel rakende die steel van munisipale eiendom.
“Die polisie het al jeugdiges gearresteer wat die yster en koper aan handelaars verkoop. Maar solank daar ’n mark is vir dit is, sal dit aanhou gesteel word.
“Dit is vermoedelik jong kinders wat die yster verkoop vir Tik,” is Kowalewski van mening.
Hy meen dat die munisipaliteit se hande afgekap is, want hoe keer jy mense om munisipale eiendom te steel.
“Mense se waterlesings word gesteel en die koper word verkoop vir R30 of R40. Dan moet die arme eienaar weer ’n waterleser gaan koop by die munisipaliteit vir R800, anders kry hy nie water nie.”
* Youths stealing manhole covers for scrap are causing not only thousands of rands of damage, but a stink as well.