Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Brand skroei Bainskloof

Brand skroei Bainskloof
 
2008-02-14


’n STORMWIND, droogte en vermoedelik drank het Vrydag gely tot ’n verwoestende brand op Bainskloof wat nie net plaasbewoners nie, maar ook die lewens van 350 spogperde bedreig het.

Die brand het om 13:00 ontstaan, toe twee voertuie in ’n botsing sowat 100m noordwes van Eerste Tol betrokke was.

Die een voertuig het in ’n kloof bokant die Witrivier van die pad gerol en aan die brand geslaan.

Volgens inwoners van Eerste Tol wat die beseerdes gehelp het, was een van die bestuurders ooglopend onder die invloed van drank.

Weens die droë omstandighede en byna stormsterk winde, het die brand vinnig versprei. Die vlamme het oor die pad gespring, en vinnig by die pas afgebrand in die rigting van Wellington.

Die windrigting het tot die redding gekom van die huise by Eerste Tol, met die brand wat op hul drumpel ontstaan het.

Die vlamme het vinnig by die berg afbeweeg in die rigting van Doolhof Landgoed en die spog perde stoetplaas, Oakdale. Honderde hektaar fynbos en woud is in die proses verwoes.

Beide plase is ontruim om die veiligheid van die inwoners te verseker. Twee helikopters was vinnig op die toneel om die vlamme te help blus.

Op Oakdale is daar geskarrel om die perde, wat oor ’n wyd verspreide area in weikampe was, na veiligheid te bring.

Die meeste van die kampe se houtheinings het aan die brand geslaan, en verskeie perde was in die middel vasgekeer. Enkele perde is lig beseer met skroei wonde.

“Dit is net ’n wonderwerk dat daar geen lewensverlies was nie, want die brand het weens die stormsterk wind soos lawa deur die gebied getrek,” vertel Flip Fortuin van Oakdale.

Oakdale is die tuiste van party van Suid-Afrika se top resiesperde,

Water moes dae lank aangery word, want Oakdale se waterpompstasie teen die hange van Groenberg het uitgebrand.

Die krag- en telefoondrade het ook voor die brand gesmelt.

Doolhof het geringe skade ondervind, met ’n paar hektaar wingerd wat deur die hitte van die brand geskroei het.

Daan Coetzee van Doolhof het gesê dat dit te danke is aan die uitstekende werk van al die brandweerbeamptes, asook die plaaslike gemeenskap wat deurnag gewerk het om die brand te blus.

Sowat 900 hektaar fynbos is deur die brand verwoes.

’n Klag van roekelose, nalatige bestuur is aanhangig gemaak teen die bestuurder van een van die voertuie.

Die afgelope naweek was die Boland bykans soos ’n toneel uit ’n Viëtnam oorlogsfliek, met talle helikopters wat heen en weer gevlieg het om verskeie brande te bestry.

Benewens die brand by Bainskloof, is duisende hektaar veld verwoes in die omgewing van Theewaterskloof. Saterdagoggend het stukke veld langs die N1 tussen Kaapstad en die Paarl gebrand, wat die verkeersvloei erg belemmer het. Hierdie brande het veroorsaak dat ’n groot gedeelte van die Drakenstein-gebied met ’n dik rookkombers bedek was.Alles is Sondag onder beheer gebring toe reën genadiglik oor dié gebied uit gesak het.

* Fires caused havoc during the past weekend




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za