MET skaars ’n maanhaar uit plek, het drie jong leeumannetjies gister by hul nuwe tuiste buite die Paarl aangekom.
Hulle kan verskoon word as hulle bietjie tande gewys het, en ’n brul of twee gegee het. Wie sou nie, as jy nou net ná ’n 12 uur lange vlug uit die vliegtuig geklouter het.
Maar die vlug na vryheid was die minste van die leeutjies se seer.
Goliath en Simba (altwee nege maande oud) en Ringo (byna agt maande oud) is maande lank by ’n Europese sirkus in ’n donker hok aangehou.
Hulle is nie aan mense gewoond nie, want hulle is nog nie vir optredes voor sirkusgehore gebruik nie.
Die owerhede het van die mishandeling en onwettige aanhouding in haglike omstandighede te hore gekom, en op die leeutjies beslag gelê.
En toe begin die papierwerk om hulle na vryheid te lei. Dis waar Paul Hart, eienaar van die Drakenstein Leeupark, in die prentjie gekom het.
Die vlug is deur ’n Britse lugredery geborg en talle ander instansies het hand in die sak gesteek. Eers is hulle na Londen vervoer en toe, na ’n tyd in kwarantyn, Dinsdag op ’n vliegtuig gesit vir die 9996km vlug na Kaapstad.
“Hulle is gelukkig weggeneem voordat hulle ingebreek is vir die sirkus,” het Hart gesê.
“Dis beter so, want nou is hulle hier voordat hulle geleer het om alle mense te haat.”
Vir die 60kg babas is die leeupark ’n reuse aanpassing. Behalwe dat hulle in die donker aangehou is, het hulle nog nooit ’n poot op gras gesit nie. En nou het hulle die vryheid en beweegruimte van ’n 10 000vk meter kamp.
“Ek sal hulle ten minste 48 uur lank nie vir ’n oomblik alleen laat nie. Die hantering, die vlug en die nuwe omgewing is ’n helse skok vir hul sisteem,” sê Paul.
Van gister af deel die jongspan ’n tuiste (nou wel met ’n skeidingsdraad) met die oudste leeu in aanhouding in Suid-Afrika, die 19-jarige Sandy.
Besoekers is welkom, en so ook leeuliefhebbers wat bereid is om die konings en koninginne van die oerwoud aan te neem.
Die aanneemkoste is R1000 per jaar. Dié wat na hul leeuwelpie tot in sy grys jare wil omsien, kan ’n lewenslange voog word, met ’n borgskap van 20 jaar.
* Three young lions have arrived at the Drakenstein Lion Park after being confiscated from a circus in Europe.