Peoples speel tweede viool
2008-02-14
YOUNG PEOPLES het Saterdag op Daljosafat sy rieme styfgeloop toe hy met 42 lopies teen Vredenburg/Saldanha verloor het. Die besoekers het die loot gewen en eerste gekolf. Die vissermanne het danksy ’n goeie spanpoging 238/8 op die telbord geplaas. Peoples se boulwerk was nie op standaard nie en al sy boulers het by tye deurgeloop. Lorenzo Jacobs (2/40) en Gerscian Gabriels (2/38) het nogtans hard probeer. Peoples het kom kolf, en behalwe vir Adiel Cassiem (59, 6x4) en Dominic Daniels (30, 3x4), kon niemand ’n groot telling byvoeg nie. Die Tiere is uiteindelik vir 196 lopies uitgeboul. Peoples II moes in ’n wegwedstryd ’n telling van 255 teen Vredenburg II jaag. Die span het goed gedoen, maar uiteindelik met 10 lopies kortgekom. Gerswin Philander (85, 4x4), Lindsay Davy (51, 6x4) en Ian Gray (41, 6x4 en 1x6) het hul kolwe die praatwerk laat doen. Op Daljosafat se B-veld het Peoples III die span van Exelsior II verniel. Peoples het met 190 lopies gewen. * Saterdag speel Peoples I en II in die 20/20 kriekettoernooi teen Vredenburg/Saldanha aan die Weskus. Die bus vertrek om 06:30 vanaf Dallas. Die spelers en toeskouers sal by die verskeie punte opgetel word. Kontak Trevor by 082-497-3884 of Willie by 073-645-8632 vir meer inligting.
More
News
|