DIT was toe uiteindelik die Caledonian Roses wat vanjaar koning gekraai het by die groot finaal van die Wellington en Distrikte Klopse Karnival.
Hierdeur het die Roses stof in die oë geskop van verlede jaar se wenners, die Fabulous Pearlites, wat nie net die kompetisie twee jaar in ’n ry wou wen nie, maar juis wou seëvier tydens hul 10de bestaansjaar.
Die eindstryd wat Saterdag plaasgevind het by Boland Stadion, het die gehoor vir ure in vervoering gehad met die kleurvolle vermaak van die klopse.
Dit was ’n geweldige taai stryd tussen die troepe wat op hul beste was vir die dag, maar op die ou einde moes iemand as wenner aangewys word.
Die Superstars was tweede in die stryd, maar deurgaans het die gees van die klopse in die geheel geseëvier.
Dit kan ook die laaste jaar wees dat daar twee verskillende klopse-unies is wat afsonderlike kompetisies in dié gebied hou.
In 2006 het ’n skeuring plaasgevind in die Drakenstein Klopse Unie wat gelei het tot die stigting van die Wellington en Distrikte Klopse Karnival.
Tans is die twee groepe besig om in die geheim samesprekinge te voer om vanaf 2009 weer as een unie op te tree.
Beide unies hou binnekort hul algemene jaarvergaderings en daar word verwag dat hierdie samesmelting hoog op die agenda sal wees.
Indien hulle daarin slaag om hande te vat, beloof volgende jaar se klopse-seisoen om ’n skouspel soos min te wees.