Piet Botha kap die Ou Meul
2008-02-14
PIET Botha en sy groep, Jack Hammer, gaan eersdaags weer ’n nuwe album opneem. Die album sal “Highway 13” heet en bevat ’n deurlopende tema wat van die titel afgelei kan word. Van hierdie nuwe werke sal gehoor word wanneer Piet en Johnathan Martin Saterdag in die Ou Meul-teater om 20:00 optree. Benewens die nuwe, oorspronklike werke is daar ook baie toevoegings tot hulle repertoire van nuwe materiaal soos ’n paar Johnny Cash interpretasies van Ameridan Recordings reeks, asook hul eie verwerkings van werke deur Nick Drake, Warren Zevon, Neil Young en andere. “Ons wil die nuwe tunes inspeel voor April, dan moet dit ateljee toe,” het Botha gesê. “Ons klank het weer sy eie rigting ingeslaan, soos wat elke paar jaar gebeur, ’n tipe metamorfose as jy wil, en dis opwindend, die nuwe klanke en temas en ritmes. Daar blyk ook ’n tipe “country” spook rond te dwaal, maar dis ’n donker karakter!” Hulle sal darem ook van die ou gunstelinge vir die gehoor in gereedheid hê. Hulle sal op baie van die vertonings bygestaan word deur ’n ou kollega, Schalk van der Merwe, ’n meester van die baskitaar. Kaartjies is R60. Skakel Vicky Stemmet by 083-564-00 56.
More
News
|