Voorspelling van groot geld kos egpaar duur
2005-03-09
DIE "fortuin" wat 'n bejaarde egpaar van Paarl-Oos volgens ’n sangoma sou maak, het hulle duur te staan gekom - sodat hulle byna hul huis verloor het.
Die egpaar het vroeër vandeesmaand ’n sangoma in die middedorp besoek waar hulle meegedeel is dat hulle geld in ’n fortuin sou verander. Hulle moes net ’n R1000 aan die “gelddokter” gee.
Volgens die polisie het die man die geld by ’n outobank getrek en dit oorhandig sonder om ’n kwitansie daarvoor te kry.
Die “dokter” het glo gesê dis nie genoeg nie, en die egpaar moes nog geld bring sodat die geld “kan groei”.
Die man het R10 000 uit sy bankrekening getrek. Steeds kon die sangoma glo niks met die geld uitrig voordat daar nie nog inbetaal is nie.
Die egpaar het gepoog om hul woning te verkoop, maar hulle kinders het ’n stokkie daarvoor gesteek en die kooptransaksie gekanselleer. Die bejaardes het nog geld bymekaar geskraap en op die ou einde R24 500 aan die sangoma gegee.
Omdat dit steeds nie genoeg sou wees nie, en die egpaar nêrens nog geld kon leen nie, het hulle Saterdag - na ’n week se onderhandelings - hul geld teruggeëis.
Toe die sangoma ’n finale R1000 geëis het sodat hulle die geld kon terugkry, het die man en vrou die saak by die polisie aangemeld. ’n Diefstal-ondersoek is na die voorval gelas.
“Daar bestaan nie so iets soos geld wat kan verdubbel nie,” het insp Julia Claasen gewaarsku.
“En indien mense geld aan ander gee, dring aan op ’n kwitansie. Dan is daar immers skriftelike bewys dat die geld oorhandig is.”
* A Paarl East couple has lost R24 000 in a scam that would have “doubled” their money.
More
News
|