IS dit nie ironies dat ’n besope motorbestuurder, bo in Bainskloofpas, die plase onder in Doolhof kan bedreig nie!
Ek verwys na die brand verlede Vrydag wat veroorsaak is deur ’n motor wat net oorkant die nek die pad verlaat en aan die brand geslaan het!
Dat die inwoners van Eerste Tol ongeskonde daarvan afgekom het, is te danke aan die sterk wind wat die baie warm vlamme weg van die nedersetting gewaai het. Dit kon baie anders gewees het!
Bainskloof word al hoe meer misbruik deur mense wat ná werk en oor naweke daar op die stilhouplekke partytjie hou.
Gaan kyk maar na die bottels wat in die vullisdromme beland of net eenvoudig die veld ingegooi word.
En dan bestuur daardie man terug Wellington toe, of oor die pas na Ceres toe, terwyl ek en jy en ons vriende of kinders ook daar ry!
Onder hierdie omstandighede kan ’n plesierrit deur Bainskloof ’n lewensgevaarlike ervaring word!
Elsa Joubert skryf in haar boek “Die reise van Isobelle” dat daar ’n groot bord naby die ingang van die pas was met die woorde: “BE PREPARED TO MEET THY GOD”. Miskien moet ons weer so ’n bord laat opsit!
Laat ons saamstaan en hierdie euwel in ons pas uitroei. Rapporteer bestuurders wat drink en dan bestuur.
Rapporteer mense wat op die stilhouplekke in die openbaar drank misbruik, of selfs gebruik, want dit is ook teen die wet! Skakel ons polisiekantoor te Wellington op 021- 864-9606 met die oortreders se registrasienommer.