DIE 150ste bestaanjaar van die Paarl Gimnasium (gestig op 12 Januarie 1858) word vanjaar feestelik gevier met ’n program propvol gebeure.
Daar is reeds afgeskop met ’n feesdiens by die Toringkerk gelei deur die bekende oud-Gimmie dr Izak de Villiers.
* Donderdag 21 Februarie word ’n lekker atletiek uur “In die skadu van die berg” by die Laerskool se Chève-sportterrein in Meulstraat gehou.
* Die Klipwerf-orkes sorg vir ’n jolige tyd op 7 Maart by die feesdans by die skool.
* Van 12 tot 15 Maart is daar die Gerrie Berner tennistoernooi en op 20 Maart skop die rugby af met die vyfdaagse o.16 rugbytoernooi by die hoërskool. Altesame 22 skole, insluitende Affies (Pretoria), Grey Kollege (Bloemfontein) en Monument (Krugersdorp) neem deel.
* Op Maandag 21 April sê leerlinge van hoër- en laerskole mekaar die stryd aan in ’n redenaarskompetisie.
* Die FNB sportfees behels vriendelike toernooie in rugby, netbal en krieket en word gehou vanaf 26 tot 28 April, gevolg deur die Gimnasium sportdag vir rugby, netbal en hokkie op 17 Mei.
* Die kuns- en kultuurfees op 19 Mei in die CR-sentrum belowe om ’n opwindende gebeurtenis te wees met kore en kunstenaars wat optree, gevolg deur die Gimvensters op 20 en 21 Mei en ’n aand met Steve Hofmeyr op 22 Mei.
* Op 16 Junie kom die Super Rugby TV-geselsprogram na Gim met Kobus Wiese as gasheer.
* Op 29 Junie is die begin van die nasionale Laerskole Cravenweek wat tot 4 Julie op die hoërskoolterrein beslis sal word.
* Na interskole (3 Augustus) is ’n dag vir boekwurms met die leesmarathon op 14 Augustus (Taaldag), gevolg deur lofprysing by die hoërskool.
* ’n o.19 Kriekettoernooi van 26 September tot 1 Oktober word bygewoon deur 13 van die land se top hoërskoolspanne.
* ’n Feeshuldigingsaand sal op 17 Oktober gehou word by die stadsaal om erkenning te gee aan oud-Gimmies se prestasies.
* Die feesjaar word afgesluit met ’n erediens wat in die Toringkerk gehou word op 9 November.