Tongring pootjie meisie
2005-06-23
Malané Bosman
’n JEUGDIGE Bonnie en Clyde het Paarlse winkeliers maande lank op horings gehad - totdat ’n tongring hulle gepootjie het.
Die tienermeisie en haar metgesel het na bewering sonder betaling vir dienste by haar- salonne en veral eetplekke weggekom.
Die lys winkeliers met klagtes teen Hesteline Plaatjies (18) van Poinsettiastraat 6, Paarl-Oos, en haar 16-jarige medepligtige van Bougainvillea woonstelle maak ’n folio vol.
By ’n eetplek sou hulle smul aan geregte van die spyskaart, en dan sou die seun uitgaan “om geld te trek”, of “iemand buite te ontmoet”. Die meisie het hom dan skielik gevolg.
Gewoonlik het die winkelassistente of restaurantbedieners hulle agternagesit, maar sonder sukses.
Dit het ook gebeur by Style 4 Hair, waar die twee in April hul hare laat sny, kleur en stileer het.
Hulle wou die koste van R400 met ’n kredietkaart betaal, maar toe wou die masjien die kaart nie aanvaar nie.
Die meisie is uit om geld by ’n kitsbank te gaan trek, met die seun wat sou agterbly. Hy het haar egter vinnig by die deur uit gevolg, met die assistente op sy hakke. Die twee het weggekom.
Sioni Reuben van die salon het die polisie dadelik in kennis gestel, met die name van die twee bedrieërs.
Die saak het nie aandag ontvang nie, en die twee het aangegaan om nog slagoffers by hul lys te voeg.
Toe die meisie onlangs by Tiffany Juweliers vir haar ’n tongring laat inskiet het, het die eienares oudergewoonte ’n foto van haar kliënt geneem, en ’n duidelike identikit van die verdagte gehad toe betaling weereens ontduik is.
Paarl speur-insp Grandall Maarman (807-4000) het ’n lasbrief gekry, en die verdagtes in hegtenis geneem.
Plaatjies het as jeugdige reeds twee keer met die gereg gebots, en is toe deur die hof aangesê om gemeenskapsdiens te verrig sodat sy nie ’n kriminele rekord sou kry nie.
“Ons was nie eintlik tevrede nie,” het polisiebeamptes onthou. “Het sy toe ’n opgeskorte vonnis gehad, sou sy dalk in haar spoor getrap het. Nou is daar ’n string aanklagte en word sy as eerste oor- treder beskou.”
More
News
|