Kramer by Oude Libertas
2008-02-21
DIE bekroonde sanger David Kramer gaan op 27 en 29 Februarie en 1 en 2 Maart liedjies van sy nuutste album, Hemel en Aarde, by die Oude Libertas-amfiteater op Stellenbosch uitvoer. Dit is amper dertig jaar sedert David Kramer vir die eerste keer in die Oude Libertas-amfiteater opgetree het. David sê: “Dit was in my begindae as sanger/liedjieskrywer en ek is genooi om op te tree in die vertoning Musiek en Liriek. Ek is steeds net so opgewonde om voor die bougainvillea onder die sterre op te tree.” “Dié konserte sal die eerste geleentheid wees om die nuwe liedjies op my veertiende album, Hemel en Aarde, uit te voer. Ek het voortgebou op die invloede wat in Huis Toe hoorbaar was, maar dié keer het dit meer in die rigting van ’n styl beweeg wat ek ‘plattelandgospel’ noem.” Die musikante wat David gaan ondersteun, is Gammie Lakay, Howard Links, Danny Petersen, Camillo Lombard, Kerryn Torrance, Ruth Marley en Elspeth Davids. Kaartjies wissel van R105 tot R125 en kan bespreek word by Computicket of die Oude Libertas-kaartjieskantoor by 021-8097473.
More
News
|