Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


JP boer vooruit met een arm

JP boer vooruit met een arm
 
2008-02-21


DAPPER, jong plaasbestuurder van Wellington staan vandag eers sterk, nadat sy arm tydens ’n fratsongeluk van sy lyf geruk is.

JP Rust (21) het verlede jaar praktiese ondervinding opgedoen op Watervlei-plaas in die Soetendal omgewing, vir sy landboustudies aan CPUT.

Hy vertel dat hy in Mei saam met plaaswerkers in ’n landery vroeg gereed gemaak het vir die dag se aktiwiteite.

Die spuitpomp was agter vas aan die trekker se dryfstang en het gedraai.

“Ek wou vasstel of die spuitpomp se tenk vol was en die stang van die trekker het my baadjie gegryp.

“Ek het geen idee gehad wat met my gebeur het nie, en terwyl ek so lę, sien ek my arm ongeveer ’n meter van my af op die grond.

“Ek het geskreeu en die plaaseienaar, Joachim Steyn, het dadelik op my noodkrete gereageer. Met sy aankoms by my in sy bakkie, het hy dadelik vir my met my arm ingelaai en hospitaal toe gejaag in die Paarl. Dit sou te lank geneem het om vir die ambulans te wag.”

By Paarl MediClinic is daar gepoog om die arm weer aan te heg, maar JP is ingelig dat dit nie moontlik sou wees nie.

JP is geen vreemdeling aan die noodlot nie.

As jong elfjarige seun het hy om sy lewe geveg weens aplastiese anomie, ’n bloedsiekte. Sy lewe is gered toe hy ’n beenmurgoorplanting ondergaan het.

In 2005 het hy en ’n vriend, Jannie Janse van Rensburg, ’n noue ontkoming gehad toe hulle deur ’n gewapende rower in Stellenbosch gekaap is.

Die kaper het vir hulle deur Cloetesville geneem, waar hulle vir hom geld moes trek by ’n OTM.

Kort ná die ongeluk waarin hy sy arm verloor het, het hy die nuus ontvang dat sy vriend, Janse van Rensburg, in ’n motorongeluk gesterf het.

“Hier het ek nou gelę sonder ’n arm en in geweldige pyn.

Daar was tye wat als om my baie donker gelyk het, maar ek het vinnig besef dat ek net ’n arm verloor het. My vriend sou nooit weer huis toe kom nie.”

Na twee weke in die hospitaal is JP na sy ouerhuis op Lützville om te herstel.

“Ek het besef dat ek net moet aangaan en ek het vanaf die huis met my studies voortgegaan en in September is ek terug na Watervlei.”

Kort nadat JP uit die hospitaal is, het ds Johannes Nortier, wat vir hom deur die hele ervaring bygestaan het, hom genader om getuienis te lewer.

Dit is toe dat daar agtergekom is dat JP ’n talent het as ’n motiveringspreker.

“Hierdeur ontmoet ek toe allerhande interessante mense en nie net kan ek moontlik vir hulle help nie, maar hulle inspireer ook vir my.”

Die volgende stap na JP se herstel was om ’n prostese te kry, maar die koste hiervan het byna ’n half miljoen rand beloop.

“Die hele gemeenskap het ingespring om te help en ek het bydraes ontvang van orals oor, selfs vanuit die buiteland.

“Die ding wat vir my die meeste geraak het van hierdie ervaring, is die manier waarop die publiek hul harte oopgemaak het vir my.

“Hiersonder sou ek beslis nie vandag gewees het waar ek nou is nie. Ek is hierdeur ’n sterker persoon.

“Dit is beslis te danke aan al die mense wat vir my deur hierdie traumatiese gebeurtenis ondersteun het.

Vandag is JP fluks terug op sy pos. Hy ontvang binnekort sy graad en boer nou vooruit.

“Daar is niks wat ek nie kan doen nie. En as ek sukkel met iets sal ek volhard totdat ek dit regkry.”

* A young farmer who lost his arm in a freak accident has proven to be an inspiration to many.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za