TALLE leerders van Wellington Jeugsorgsentrum het die afgelope naweek byna hul pad na vryheid gevind, toe die sentrum in chaos gedompel is tydens ’n bom- en gyselaars drama.
Die chaos het Vrydagmiddag begin toe die sentrum ontruim moes word toe die skool ’n oproep ontvang het dat daar ’n bom op die perseel is.
Van die leerders se voete het reeds tydens die ontruiming begin jeuk, maar personeel en polisie het uiteindelik daarin geslaag om hulle in toom te hou.
Die perseel is gefynkam en geen teken van ’n bom is gevind nie.
Toe dinge lyk asof hulle na normaal teruggekeer het, het pandemonium Saterdag weer losgebars.
Dié oggend het een van die jong inwoners van die sentrum volgens ooggetuies in ’n swart minibus verdwyn. Kort hierna is daar ’n oproep ontvang om te sê dat die seun ontvoer is.
Die polisie is weer ingeroep, en dié keer ’n polisiehelikopter ook, om die gebied te fynkam vir enige teken van die seun.
Die jong inwoners van die jeugsentrum het nou die geleentheid benut om die hasepad te kies. Altesame 18 leerders het die strate ingevaar, maar hulle is binnekort weer aangekeer.
Intussen het ’n reusesoektog voortgegaan vir die ‘ontvoerde’ seun.
Met behulp van ’n selfoonverskaffer, het die sein waarvandaan die selfoonoproepe gekom het, die spoor na Robertson gelei.
In Robertson is die swart minibus verlate gevind, en die selfoonsein het gelei na die ouerhuis van die seun wat ‘ontvoer’ is.
Hier is hy veilig gevind en die eienaar van die selfoon wat die dreigoproepe gemaak het, is die seun se broer, ook ’n vorige inwoner van Wellington Jeugsorgsentrum.
Die twee seuns is in hegtenis geneem vir dwarsboming van die gereg.
Die Wellington Jeugsorgsentrum, voorheen bekend as Val du Charron, is ’n maatskaplike rehabilitasiesentrum vir jongmense.
* The Wellington Youth Care Centre was plunged into chaos over the weekend, after a bomb threat and hostage drama.