Paarlse moordenaars agter tralies
2005-06-23
DIE moordenaars van die bejaarde Paarliet Lionel Hellig gaan lank agter tralies wees.
Die vonnis, van lewenslank en 20 jaar effektief, is in die Kaapse Hooggeregshof onderskeidelik aan André Plaatjies (34) en Ferdi Julius (29) van Paarl-Oos opgelê.
Dit was nadat David Hellig, seun van die vermoorde 83-jarige, in trane oor sy vader se persoonlikheid getuig het.
"Die oorledene het ’n produktiewe lewe gelei. Hy is nie toegelaat om sy laaste dae in vrede en waardigheid deur te bring nie.
“Hy moes vir ’n skrale bietjie goed ’n grusame en wrede dood sterf,” het regter Willem Louw met vonnisoplegging gesê.
Hellig het in Maart 2003 in sy woning in Bereastraat, Paarl, weens versmoring gesterf nadat hy deur inbrekers vasgebind is.
Plaatjies en Julius het met die huis- en motorsleutels ontsnap, en later teruggekeer om die buit met Hellig se motor weg te ry.
Die hof het ook gehoor dat die beskuldigdes by vorige geleenthede ook by die Helligwoning ingebreek het.
Die liggaam is eers vyf dae ná die moord ontdek. Die motor is deur die polisie in Worcester opgespoor.
Plaatjies se vorige veroordelings vir huisbraak, en Julius se berou, is in aanmerking geneem by vonnisoplegging.
So het die regter ook die emosiegelaaide getuienis ter harte geneem van David Hellig, die Paarlse landmeter wat grootgeword het in die huis waar sy vader 55 jaar lank gewoon het, voordat hy daar vermoor is.
* The murderers of a Paarlite will spend many years in jail.
More
News
|