Paarliete blink uit in SA vrouekrieket
2008-02-21
Jaco van Wyk
MAANDAG het die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan hul aanslag in die kwalifiserende rondes op Stellenbosch begin deur met Bermuda af te reken om ’n plek in die Wêreldbekertoernooi te bespreek. Sunette Loubser van die Paarl was die Suid-Afrikaners se speler van die wedstryd. Sy het 6 paaltjies vir slegs 2 lopies laat kantel. Suid-Afrika het met tien paaltjies geseëvier op Coetzenburg A. Dinsdag het Suid-Afrika ’n uitstekende oorwinning oor Papoea-Nieu-Guinee behaal deur hulle met 270 lopies te klop. Nog ’n Paarliet, Ashlyn Kilowan, het ook in die wedstryd gespeel. Saam met sewe ander nasionale spanne is Suid-Afrika in ’n stryd gewikkel om een van die spanne te wees wat aanstaande jaar om die Wêreldbekertoernooi in Australië te gaan meeding. Die ander spanne wat in Suid-Afrika se pad staan is Nederland, Bermuda, PapoeaNieu-Guinee, Pakistan, Ierland, Skotland en Zimbabwe. Net twee van die spanne kan kwalifiseer. Suid-Afrika kom vandag teen Nederland te staan op Coetzenburg A-veld. Vrydag en Sondag word die uitspeelwedstryde gespeel. Die wedstryde begin om 10:00.
More
News
|