DIE dwelm Tik, ter waarde van meer as R40 000, is verlede week uit die kloue van handelaars geruk in ’n middernagtelike polisie-klopjag in Wellington.
Behalwe die kristalle, is daar ook beslag gelê op toerusting vir die vervaardiging van glaspypies waarmee die verpoeierde dwelmkristalle gerook word.
’n Groot hoeveelheid kontant, vermoedelik betaling vir Tik-aankope, asook elektroniese toerusting wat moontlik gesteel is, is ook die Donderdagnag gekonfiskeer.
Oscar Meyer (65), eienaar van Hospitaalstraat 10 (en in die gemeenskap asook in die landdroshof berug vir onwettige drank en dwelmhandel), is in hegtenis geneem.
Die klopjag onder leiding van kapt Christo Ross, is uitgevoer ná ’n intensiewe ondersoek en inligting uit die gemeenskap.
Terwyl polisie aangeklop het by die Meyer-woning, wat jare lank al in aanbou is, het kollegas by die netjiese woning agter hoë mure oorkant die straat, toegeslaan.
By Hospitaalstraat 10 is Tik-kristalle in 84 plastieksakkies in die onvoltooide mure ontdek.
Oscar Meyer is aangekeer en word nou in Allandale Gevangenis aangehou.
Nog twee mans wat in die huis was, is dwarsdeur die nag ondervra voordat hulle die volgende oggend voorlopig vrygelaat is.
Die Wellington polisie is ondersteun deur lede van die publieke orde polisiéringseenheid uit die Paarl asook die honde-eenheid se dwelmsnuffelhond, Sussie.
Regoor die straat, by Hospitaalstraat 17, is Faizel Lewis (26) in sy ouerhuis in hegtenis geneem op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Duiktoerusting, wat tweerigtingradio’s insluit, is in die woning ontdek. ’n Gaskan met ’n blaaskop vir die vervaardiging van glaspypies vir die rook van Tik, is in ’n houthok op die erf gekonfiskeer.
By ’n ander woning waarna die gemeenskap vinger gewys het, Mooivleistraat 25, is drie sakkies Tik-kristalle, ’n 9mm magasyn, ’n kannetjie pepersproei asook twee vermoedelik gesteelde televisiestelle en vier DVD-spelers ontdek.
Die huiseienaar, Jonathan Thyse, is aangekla van die besit van Tik asook vermoedelik gesteelde goedere. ’n Opgeskorte vonnis is onlangs aan Thyse opgelê vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Thyse en twee mans wat saam met hom was, Ernest Rossouw van Vanwyksvleiweg 38 en Arend Fortuin van Ranonkelstraat 12, is die nag aangehou.
Die sake teen hulle is die volgende dag voorlopig teruggetrek terwyl die kristalle forensies ontleed word, en die ondersoek na die eiendom afgehandel word.
Streekhoflanddros Patrick Ross van Wellington het onlangs ’n reuse-veldtog van stapel gestuur om ’n perseel te probeer kry waar slagoffers van Tik - gebruikers sowel as hul naastes - ondersteuning kan kry.
“Elke dag is hier ten minste vyf ouers wat in my kantoor sit en huil oor hul kinders en dat hulle nie weet waarheen nie,” het ’n sigbaar ontstelde landdros Ross gesê.
“En dan is daar nog ten minste tien mense per dag wat in wanhoop aan die kantoordeur klop oor gesinsgeweld in hul huise - as gevolg van dwelmmisbruik.
“Ek sal nie rus voordat daar ’n perseel beskikbaar is nie waar hulp en beskerming gebied word nie. Ek hoop die Raad sal kan help, want die behoefte is so groot, en in soveel huise.”
* The drug Tik, valued at more than R40 000, was confiscated during a police raid on homes in Wellington.